LettersOpinion

Brief: Ses maande oor van matriek — waarheen dan die toekoms in?

Jy het pas klaargemaak met jou finale nasionale eksamenvraestel en skielik oorval dit jou soos ’n dief in die nag. Wat gaan ek vir die res van my lewe doen?

Lisa van Vuuren, Bela-Bela, skryf:

Daar is minder as ses maande van die jaar oor voordat matrieks 2022 afsluit en die lewe as volwassenes betree.

Die feit dat die Covid-19-maatreëls nou opgehef is, sal baie meer deure wat toegemaak het vir die jong volwassenes open.

Die meeste van ons ken die gevoel: Jy het pas klaargemaak met jou finale nasionale eksamenvraestel en skielik oorval dit jou soos ’n dief in die nag. Wat gaan ek vir die res van my lewe doen?
Ek was ook daar.

Met ’n gesonde ambisie en geesdrif het ek my laaste vak voltooi, my pen neergesit en die vraag gevra, wat nou?

In my soeke na my doel in die lewe (natuurlik deur die internet) sien ek die opskrif van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV): “Postmatriek, maak die lewe kinderspeletjies.”

My belangstelling is geprikkel en my lus vir die volwasse lewe het skielik opgevlam.

Ek het die moeite gedoen om navrae te doen en keuring vir die studiekursus gekry.

Dit was vir my die beste besluit wat ek kon neem, want danksy dié program het my uitkyk op die lewe aansienlik verander. Altans, dit is in die groot soeke om uit te vind wie ek is.

As een deel van die program het ons op ’n vyfdag-staptoer deur die Drakensberg gegaan. Ek het gedink dit is om ons aan die natuurskoon en vars lug bloot te stel, maar dit was veel dieper as die grond onder ons voete.

Een oggend, douvoordag, op die punt van Lesleys Pass het ek gestaan en die natuur bewonder. Soos wat die wind saggies deur my hare gespeel en ek die landskap in sy glorie aanskou het, het ek die openbaring ontvang dat ek vir ’n doel bestaan en dat dit die moeite werd is om te bestaan. Om myself op elke vlak moontlik beter te leer ken, om van mense se menings afstand te doen en my eie identiteit te ontwikkel.

As ek myself en my belangstellings en my passie ken (en om te streef daarna) sal dit nie saak maak wat ek aanpak nie, want geluk sal my altyd volg.

Dit sal ’n leerskool op sy eie wees en ek maak vrede daarmee.

Net soos wat ek ’n stukkie van my siel in die Drakensberg se atmosfeer laat rondsweef het, so voel dit ook om vars uit matriek te stap.

Dit is nie net ’n uitdaging nie, maar ’n geleentheid om die lewe op jóú voorwaardes te begin.

Related Articles

Back to top button