Local newsNews

Geharde skaapras gepas vir Bosveld-klimaat

Skaapboere in Limpopo is baie bewus van die uitdagende klimaat waarby diere moet aanpas.

Dit is veral bosluis-oordraagbare siektes en inwendige parasiete wat skaapboere in Limpopo hoofbrekens besorg.

Dit het boere en lede van die Limpopo Pedi-studiegroep (deesdae die Bosvelder-studiegroep) in 2009 koppe bymekaar laat sit om navorsing te doen oor die beste eienskappe van skaaprasse. Die Bosvelder-skaapras is hieruit ontwikkel. Die eerste Bosvelder-veiling is in 2018 gehou.

Rudette Nel, boer van Thabazimbi, het by navraag gesê die Bosvelder is ’n saamgestelde ras wat geteel is uit gene van die Bapedi-skaap (beter bekend as die Pedi-skaap), Van Rooy en witdorpers.

Rudette Nel van Thabazimbi is deel van die Bosvelders-studiegroep en het ’n groot kudde Bosvelder-skape op hul plaas by Rooibokkraal.

Sy en haar man, Jannie, boer tans met 500 Bosvelders tussen Makoppa en Rooibokkraal buite Thabazimbi.

“Die Pedi-skaap is juis bekend vir hul gehardheid, vrugbaarheid, goeie moederseienskappe en tropinstink. ’n Groep van ons boere wou graag ’n skaap met ’n beter speengewig, groei en karkasgewig teël, wat met die Pedi se lang lewe gekombineer kan word.”

Die Bosvelder-ras het hulself ook nou in ander dele van die land bewys.

“Hulle is baie goed aanpasbaar en produksiesyfers is goed. Daar word suksesvol met Bosvelders geboer in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Noord-Wes, Gauteng en natuurlik Limpopo. Selfs boere in Botswana en Mosambiek het intussen belangstelling getoon in dié geharde skaapras,” het sy gesê.

Dr. Dawid Snyman, veearts van Thabazimbi, is reeds van jongs af bekend met die Pedi-skaap se gehardheid en is nou een van die talle boere in die Thabazimbi-omgewing wat met Bosvelders boer. Sy uitgangspunt is dat skaapboere so na as moontlik aan die natuur moet boer en om hulle kudde so gehard as moontlik te hou, het sy vertel.

“Weens die aard van sy beroep kan hy nie heeltyd aandag aan die skaapboerdery gee nie en daarom maak dit vir hom sin om met ’n geharde skaapras soos die Bosvelder winsgewend te boer.”

Vir Annelda van Graan van Limcroma Safaris, ook in Rooibokkraal, was die groei op haar belegging in Bosvelder-skape die belangrikste, het Nel vertel.

“Die vrugbaarheid, gehardheid en bemarkbaarheid van die Bosvelder-skaap bly vir haar die belangrikste faktore vir sukses en sy is baie in haar skik met die groei op hul aanvanklike belegging. Annelda boer saam met haar kinders en verstaan die belangrikheid van goeie genetika. Sy spits haar daarop toe om net die beste teëlmateriaal van bekende telers te bekom.”

Die Bosvelder-skaapras dra beslis ook die stempel van goedkeuring wanneer dit by standaarde vir skaapboerdery in Suid-Afrika kom.

“Alle diere wat onder die beskerming van die Bosvelder-studiegroep op veilings opgeveil word, word met ’n waarborg teen siektes soos hartwater verkoop. Ons beplan om in Augustus vanjaar weer ’n Bosvelder-veiling te hou aangesien daar ’n groeiende aanvraag na dié soort skape is.”

Die volgende Bosvelder-studiegroep Elite-veiling word vir Saterdag 27 Augustus by die Vleissentraal-krale buite Bela-Bela beplan. Dit sal die 11de Bosvelder-veiling wees.

Die studiegroep beoog om tydens die Thabazimbi-landbouskou, wat op Woensdag 27 Julie begin, ’n uitstalling te hou en daar meer inligting aan boere beskikbaar te stel.

Mense wat in die Bosvelder-skaapras belangstel kan vir Nel bel by tel. 079 941 7292 of vir Snyman by tel. 083 669 4667 of vir Van Graan by tel. 071 966 7840.

Related Articles

Back to top button