Local newsNews

Eerste boerboel-veiling oortref alle verwagtinge

Die eerste groot boerboelaanteelveiling in Limpopo is op Saterdag 25 Junie by Castle de Wildt buite Modimolle gehou.

Boerboele word as ’n baie gewilde honderas beskou en is bekend as getroue waghonde, maar nou het hulle ook waarde as winsgewende boerdery gekry.

Dié veiling is in samewerking met Andre Kock & Seun-veilingshuis en Meerkat-aanlynveilings gehou. Niel Swart, afslaer, het na afloop van die veiling gesê die veiling het baie suksesvol verloop.

“Daar was 50 geregistreerde kopers wat op die aanlynwebtuiste gerigstreer het. Die belangstelling in die 57 lotte was groot. Die reun wat die hoogste prys van R65 000 behaal het, spog met uitstekende genetika en sal ’n aanwins vir ’n teelprogram wees. Die hoogste prys vir ’n teef was R62 000,” het hy gesê. “Die werpsels het puik pryse behaal. Ons gaan beslis in 2023 weer so ’n veiling hou.”

Kriminele aktiwiteite waar groter honderasse in hondegevegte en onwettige jagtogte gebruik word, is deesdae gereeld in die nuus en juis daarom het die dierebeskermingsvereniging (DBV) dié veiling deeglik gereguleer en word teelprogramme goed gemoniteer.

Wihann Felstead, bestuurder van Kaingo-boerboeltelers wat die honde aangebied het, het aan Die Pos gesê boerboeltelery is deesdae ’n heel ingewikkelde program.

“Telers moet aan streng vereistes voldoen en inskakel by die Suid-Afrikaanse boerboelvereniging. Telers moet akkreditasie bekom en toegang kry tot genetika om gesonde boerboele te teel. Geen boerboel mag deesdae hul teler se erf verlaat sonder ’n geboorte- en immuniteitsertifikaat of mikroskyfie nie,” het hy gesê.

Boerboele word veral deur telers vir hondeskoue ingeskryf. Dié indrukwekkende honderas doen baie goed op skoue waar telers se unieke boerboel-genetika ten toon gestel word. Skoue dien as goeie bemarking, maar help ook telers om hul honde teen ander telers te meet.

Die produkte wat gewoonlik as pryse by skoue gegee word, stel die teler in staat om nuwe voeding of aanvullende produkte te bekom om die gesondheid van hul boerboele te bevorder.

“Ons telery het in 2020 met slegs drie boerboele begin, maar spog deesdae met 30 boerboele van topgehalte. Een van ons jonger boerboele, Baronne, is vroeër aangewys as ’n junior kampioen,” het hy gesê.

Ons het uitgebreide geriewe wat oor ’n kraamsaal, teater, en ander mediese sorg beskik. Die voedingsprogram word deur veeartse gemoniteer en aangepas vir elke individuele hond. Ons glo in lynteling wat beteken dat die karaktereienskappe van die boerboel en sy voorsate bewaar word.”

Hoewel sommige telers neig na kruisteling kan dit negatiewe eienskappe in ’n boerboel na vore bring — in hul gesondheid of gedrag, meen Felstead. Daar heers volgens hom ’n wanopvatting dat boerboele van nature aggressief is.

“Ons noem dit ’n Smartieboks-benadering wanneer telers nie bewus is van watter karaktereienskappe deel vorm van ’n sekere boerboelbloedlyn nie. Dit is juis waarom telers rekord moet hou van die boerboel se genetika en karaktereienskappe,” het hy gesê.

Elke voornemende eienaar het hul eie behoefte waaraan ’n boerboel moet voldoen, het Felstead gesê. Die oorsese mark is juis gaande oor die boerboelras en hulle word vir hul eksotiese waarde teen derduisende rande verkoop. Die teler moet egter sorg dat elke boerboel aan ’n betroubare eienaar verkoop word.

“Werpsels word verkieslik eers verkoop wanneer hulle 8-12 weke oud is. Ons vind dat tewe hoër pryse as reuns behaal omdat sy meer as een werpsel kan hê.”

Boerboele word volgens hom deesdae geteel om skougehalte te wees, maar ’n eienaar wat ’n hegte band met sy boerboel het, kan verseker wees dat die hond hom sal beskerm,” het hy gesê.

“Omdat ons die karaktereienskappe van die ras wil terugbring soos dit dekades gelede was, gebruik ons inseminasie-prosesse. Dit haal natuurlike dekking uit die prentjie, maar die teef beleef dan ook minder stres,” het hy gesê.

“Om te teel is ’n 24-uur per dag werk en telers moet ’n passie vir die boerboelras hê. Ons is baie trots op die boerboele wat ons tot dusver geteel het. Dit gaan vir ons meer oor trots as die finansiële voordeel.”

Related Articles

Back to top button