Local newsNews

Modimolle-gemeenskap maak dorp skoon

Modimolle-inwoners en sakelui het hande gevat om die dorp op Saterdag 25 Junie skoon te maak.

Ten spyte van ysige wintersweer was almal vuur en vlam om ’n positiewe verskil in die dorp te maak deur al die vullis in die strate, wat weens die munisipaliteit se gebrekkige dienslewering nie verwyder is nie, op te laai en weg te ry na die stortingsterrein.

Die groep vrywilligers het vroegoggend voor die Maroela Kafee op die hoek van Maroela- en Boshoffstraat byeengekom. Van daar het die vragmotors, bakkies met sleepwaens en ander voertuie kruis en dwars deur die dorp gery om swartsakke en rommel op te tel.

Jaco de Villiers (De Villiers Hardeware) het een van hul groot vragmotors beskikbaar gestel met personeel wat gehelp het om skoon te maak. Fernando Goncalves (Pavecon), Adriaan van der Colff (NTK) met ’n span van vyf werkers, Pieter Bezuidenhout (MEGS Waterberg) en Wiets Botes (DA) se vragmotors het ook heeldag gewerk. Julius Weideman (Jumas Sekuriteit) het met ’n hele vloot van hul bakkies deur die dorp beweeg om skoon te maak. Michiel Laubscher (Nylstene), asook Nicci Stolp (Skip Girl) se werkers het gehelp met ’n bakkie en een van die groot vullis-
houers om vullis op te laai. Jakkie Boshoff (Nylstroom Taksidermie), Anita Wandrag (Matori Lodge & Waterberg Motorsport), Gert Kgang (Tuindienste) het almal met bakkies en sleepwaens gehelp.

Vroeёr die week het Jannie Buys (Koinonia-kerk) en Johan Brits (Focus Deo-kerk) ook gehelp vullis verwyder, asook Gert Brummer (Tuindienste).

Hierdie skoonmaak-aksie is deur Wiets Botes, sakeman en inwoner, gekoördineer om die vinnige agteruitgang van woonbuurte weens gebrekkige dienslewering teë te werk. Hy het verduidelik:

“Ek is nie ’n voorstaander van selfdoenprojekte nie omdat dit nie volhoubaar is nie, maar ons dorp is in ’n krisis wat beteken inwoners moet oorgaan tot aksie. My missie is om alles in my vermoё te doen om ons dorp weer tot op ’n goeie standaard te bring en dit dan so te handhaaf. Ek wil elke lid van die gemeenskap, sakelui en inwoners, bedank vir hul bereidheid om te help, want as ons saam werk kan ons ’n verskil maak.”

Volgens die munisipaliteit is die vullisverwyderingsvoertuig wat in Modimolle werk intussen herstel en kon die normale skedule weer vanaf Maandag 27 Junie gevolg word.

Die Modimolle-gemeenskapsforum Aksie Opknap het ook ’n byeenkoms gereёl op Donderdag 23 Junie waar die alombekende Barend le Grange en Freek Robinson die gassprekers was. Die doelwit was om inwoners van plattelandse dorpe aan te spoor om tot aksie oor te gaan om ’n beter toekoms vir die land te bou. Hul aksieplan is: Maak skoon. Maak reg. Maak mooi. Maak groen.

Dit sluit perfek aan by dit wat Aksie Opknap reeds in Modimolle doen. Erna Human, voorsitter van Aksie Opknap, se leuse is “Saam is ons sterker!”

Dit wil voorkom asof die inwoners van Modimolle hierdie leuse nou ter harte neem.

Related Articles

Back to top button