Local sportSport

Blitsige oud-Nylie vlieg eersdaags oorsee

’n Blink toekoms wink vir oud-Nylie William Mabena (22) wat eersdaags na Amerika vertrek waar hy ’n omvattende sportbeurs van die Universiteit van Iowa Western ontvang het.

Die hoogtepunt van Mabena se junior atletiekloopbaan was in 2018 toe hy tydens die junior Suid-Afrikaanse-kampioenskap ’n goue medalje in die 100 m vir seuns o.19 en ’n silwer medalje in die 200 m vir seuns o.19 gewen het. Die blitsvinnige 10,2 sekondes in die 100 m en 20,8 sekondes in die 200 m is tot dusver sy persoonlike beste tye.

Dit het die weg gebaan vir sy toetrede tot die senior Suid-Afrikaanse-kampioenskap in 2019 waar hy die 200 m-naellope gewen het. Ongelukkig het die grendeltyd in 2020 ’n stokkie voor sy atletiekdrome gesteek en moes hy vir eers terugkeer na sy ouerhuis in Modimolle.

Daarna het ’n fratsongeluk in Februarie 2021 amper sy professionele sportloopbaan beëindig. Mabena het aan Die Pos vertel dat daar vroegoggend ’n brand in hul huis ontstaan het. Sy ma, Catherine, kon self na veiligheid kom, maar sy suster Martha (toe 14) is deur die rook in haar kamer oorval. Mabena het haar kamervenster van buite oopgeskop om haar uit die vlamme te red.

William Mabena.

Almal was gelukkig ongedeerd, maar Mabena het sy enkel erg beseer waarna hy noodgedwonge alle oefening en naellope moes staak. Die operasie wat hy in Mei 2021 ondergaan het, was suksesvol en hy kon mettertyd weer met sy oefenprogram begin.

Mabena is opgewonde oor die goeie tye wat hy al vanjaar in die 200 m aangeteken het wat net ’n breukdeel van ’n sekonde stadiger is as sy persoonlike beste tyd.

Hy het aan Die Pos vertel dat die Universiteit van Iowa in Amerika hom ’n uitstekende, volledige beurs aangebied het wat sy studies, verblyf, sportafrigting en ander voorregte insluit. Hy beoog om ’n sportwetenskap- en afrigtingskursus te volg terwyl hy volstoom met sy naellope voortgaan. Sy uiteindelike doelwit is om teen vroeg aanstaande jaar die 200 m onder 20 sekondes af te lê.

Die Amerikaanse akademiese jaar begin in Augustus en Mabena beplan om voor die einde van Julie na die VSA te vertrek. Deel van die beursooreenkoms is dat hy sy eie eenrigtingvliegkaartjie daarheen moet koop wat ongeveer R17 000 beloop, asook ’n geldige visa, wat R 6 000 kos, bekom.

Mabena se ouers is baie trots op hom en wens hom alle sterkte toe vir hierdie nuwe uitdaging. Sy gesin is net hartseer om van hom afskeid te neem, want hy sal net een keer per jaar in sonnige Suid-Afrika kan kom kuier. Sy ouers het onderneem om al sy persoonlike benodigdhede, klere en sakgeld te voorsien mits hy genoeg geld insamel om die vliegkaartjie en visa te betaal.

Hy het hom tot sosiale media gewend om die nodige geld in te samel en was verbaas oor die reaksie wat vanuit alle oorde gekom het. Die grootste bydrae is deur Marietjie en Jan Sypkens, hul seun, Jacques, wat in Brittanje woon en hul seun, Tokkie, wat tans in Australiё woon, gemaak. Die Sypkens-gesin het jare lank in Modimolle gewoon en al drie hul kinders is oud-Nylies. Marietjie het aan Die Pos vertel dat die Here dit werklik op haar hart gelê het om hierdie jong atleet te help om sy atletiekdrome te bewaarheid.

Nog ’n groot bydrae het gekom van Armand Seegers af, ook ’n oud-Nylie wat tans in Dubai woon. Ander donasies is ontvang van Desirée van der Walt (DA-Limpopo en lid van die parlement), Pieter Bezuidenhout (MEGS Waterberg) en Amerintia Human (Modimolle Tiger Wheel & Tyre), asook ander sakelui in die Waterberg.

Teen druktyd het Mabena nog ongeveer R5 000 gekort vir die vliegkaartjie. Hy het bevestig dat sy visa-aansoek reeds goedgekeur is en binne die volgende twee weke uitgereik sal word. Sodra hy die visa het, kan hy die vliegkaartjie bespreek sodat hy kort ná sy 23ste verjaardag op Donderdag 14 Julie, kan vertrek.

Belangstellendes wat hom graag wil ondersteun, kan hom bel by tel. 067 877 8820 of ’n e-pos stuur na willymabena96@gmail.com vir meer inligting.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button