Local newsNews

Moeg vir swak diens? Hoe om ’n munisipaliteit voor die hof te daag

Hoe swakker munisipale dienslewering landwyd raak, hoe meer mense moedig mekaar aan om munispaliteite met regsgedinge te dwing om hul pligte teenoor belastingbetalers na te kom.

Die Pos het gaan kers opsteek by Alet Uys, ’n regskenner van Pretoria en kundige van munisipale reg.

Hoe werk ’n aanmaningskrywe?

Ons kantoor se ervaring is dat mense sukkel om munisipale verteenwoordigers op te spoor wat bereid is om die verantwoordelikheid te neem. Juis daarom is dit soms nodig om ’n brief of hofdokument op die munisipaliteit te laat beteken wat deur ’n balju bedien word.

Dit is ’n meer sinvolle, goedkoper en doeltreffende manier om ’n dispuut deur ’n gesprek tussen die partye aan te spreek sonder regte wat benadeel word eerder as om ’n opponerende houding met ’n aanmaningskrywe in te neem.

Hoe word ’n siviele hofsaak gevoer en wat is die meriete daarvan?

In munisipale dispute is daar nie noodwendig finansiële skade gely nie, maar dit gaan eerder oor hoe ’n mens ’n munisipaliteit kan dwing om hul verantwoordelikhede en pligte teenoor inwoners na te kom, soos om munisipale rekenings reg te stel.

Elke siviele saak is veronderstel om met ’n eerste gedetaileerde konsultasie tussen prokureur en kliënt af te skop. Alle omliggende omstandighede, feite, geskiedenis en dokumente word tydens die eerste konsultasie oorweeg om te besluit hoe ’n hof genader moet word en of ’n advokaat betrek moet word.

Daar word gewoonlik ’n skriftelike mandaat by die eerste konsultasie aangegaan waarin aspekte soos kostes uiteengesit word. Hoewel die meriete en uiteensetting van skade reeds in die eerste hofstuk beskryf word, word die meriete en die skade vir doeleindes van ’n verhoor telkemale van mekaar geskei sodat daar eers op die meriete besluit of geskik kan word voordat skade bepaal word.

Wat maak ‘n kleineise-hofsaak anders as ’n siviele saak?

Die kleineisehof is bedoel vir mense wat ’n eis van R20 000 of minder teen iemand wil instel. Net privaat persone (nie sakeondernemings soos beslote korporasies) mag eise by dié hof instel nie.

Oor die algemeen moet hierdie soort eise eenvoudige soort eise wees.

Wat is ’n mandamus-aansoek?

’n Mandamus-aansoek is ’n interdik wat ’n instelling soos ’n munisipaliteit verplig om sekere stappe te neem om sodoende hul verpligtinge na te kom. ’n Mandamus-interdik vereis dat iemand juis optree. So ’n interdik is anders as ’n interdik wat iemand verhoed word om sekere stappe te neem.

Hierdie soort aansoek is kompleks en derhalwe moet iemand eerder ’n ervare prokureur hiervoor konsulteer. Munisipaliteite se verpligtinge word in detail in die munisipale stelselwet uiteengesit. ’n Ingewikkelde mandamus-aansoek teen ’n munisipaliteit sal nie sommer in ’n kleineisehof aangehoor word nie. Daar is nie regsverteenwoordiging by die kleineise-hof nie. Die meeste landdroshowe landwyd het ’n kleineise-hof-afdeling waar die hofklerke lede van die publiek met hul navrae bystaan en die eise ná ure deur die kommissaris van die kleineise-hof aanhoor en beslis.

Is die hofproses ’n duur ervaring?

Hofsake word oor die algemeen as ’n duur oefening beskou omdat elke lid van die regspan — prokureur, moontlik ’n advokaat, moontlik ’n klerk wat saam met die prokureur werk — hul fooie per uur hef. Hoe meer tyd aan ’n aangeleentheid afgestaan word, hoe duurder die regskoste. Daar is ook eksterne uitgawes wat deur ‘n kliënt aan hul prokureur betaal moet word soos afskrifte, baljukoste en reiskoste.

“Elke party moet gedurende die litigasieproses hul eie regskostes befonds en hoop om aan die einde van die hofsaak met koste te slaag. Al slaag iemand met ’n koste-argument is daar ’n verskil tussen party-en-party en prokureur-en-kliënt koste.”

  • Uys dien reeds sewe jaar as ’n regsgeleerde in die hooggeregshof. Sy het regsgrade aan die Universiteit van Pretoria behaal waar sy die internasionale Golden Key-toekenning ontvang het. Sy is tans besig met haar meestersgraad. Sy spesialiseer in siviele en kriminele sake, maar het ook sukses behaal in huishoudelike geweldsake, asook arbitrasie.

Related Articles

Back to top button