Local newsNews

Apteker bemagtig VLU-tak se vroue

Die Vroue Landbou-unie (VLU) se Naboom-tak in Mookgophong nooi gereeld kundiges om hulle toe te spreek oor spesifieke temas.

Martin van der Walt, bekende apteker in die dorp, het op Dinsdag 14 Junie besoek aan die VLU-vroue gebring om te gesels en inligting te gee oor algemene gesondheidsprobleme waarmee vroue dikwels te kampe het.

Hy het op sy gemaklike en innemende manier gepraat oor onder meer diabetes, hipertensie, skildklierprobleme, hoë cholesterol en hormone. Hy het ook ’n paar wenke vir ’n gesonde leefstyl en eetplan aan die vroue gegee.

Met die vergadering se tema van holistiese gesondheid, was dit gepas dat afgetrede verpleegsuster Debbie Weideman die uitnodiging aan Van der Walt gerig het.

Die vroue se vergadering is by Die Oog-aftreeoord se Njala-lapa gehou. Soos gewoonlik was daar heerlike verversings en warm koffie om die koue te verdryf.

“Die vroue het die toeganklike apteker behoorlik met vrae gepeper,” het Weideman vertel. “Die vroue het dit baie waardeer dat Van der Walt die tyd afgeknyp het om hulle te kom toespreek en hulle op dié manier te bemagtig,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button