LettersOpinion

Brief: Is die wiel aan die draai?

Nog nooit voorheen was dit so duidelik soos nou dat ’n nuwe koers ingeslaan moet word om ekonomiese groei te bewerkstellig.

Bennie van Zyl, TLU SA-hoofbestuurder, skryf:

’n ANC-minister wat die party se beleidsomgewing uitdaag — enkele dae voordat die ouditeur-generaal bekendmaak dat byna 90% van die land se munisipaliteite vir alle praktiese doeleindes misluk — is ’n duidelike bewys van die ANC-regering se beleidsomgewing wat die land en sy inwoners in die steek laat.

Mmamoloko Kubayi, die minister van menslike nedersettings en die hoof van die ANC se subkomitee oor ekonomiese transformasie, vertel in ’n eksklusiewe onderhoud met ’n koerant dat beleidsbesluite in 2017 nie meer in lyn is met vandag se realiteit nie, dat meriete bo alles moet seëvier en dat beskerming van voedselsekerheid belangriker as beleidsdokumente (met betrekking tot onteiening sonder vergoeding) is.

Hierdie is die eerste rasionele klanke uit ANC-geledere. Of dit te laat en te min is, is ’n ope vraag en dit is net een persoon se standpunt, maar sal hier ’n ommeswaai kom? Nog nooit voorheen was dit so duidelik soos nou dat ’n nuwe koers ingeslaan moet word om ekonomiese groei te bewerkstellig.

Aspekte waarna die minister wys, is punte wat deurlopend sedert 1994 deur TLU SA uitgelig is. Solank as die ANC volhard met beleid van kaderontplooiing waar mense nie in staat is om hul rolle te vertolk nie, sal daar gefaal word. Die ANC sal ernstig moet besin. Hulle steel tans inwoners en veral jongmense se toekoms. Die party moet begin fokus op ekonomiese groei.

Tsakani Maluleke, ouditeur-generaal, het onlangs bekend gemaak dat net 41 uit 257 munisipaliteite skoon oudits ontvang het.

“Ofskoon ons geweet het ons land se munisipaliteite grotendeels faal, is dit steeds skokkend om die syfers van die haglike toestand waarin die munisipaliteite se finansies verkeer, te sien” het Erika Helm, TLU SA-plaaslike regering gesê. Daar is al jare lank herhaaldelike waarskuwings aan munisipaliteite gerig om hul sake in orde te kry, maar dit het duidelik op dowe ore geval. Dit is skokkend hoeveel munisipaliteite afwysende ouditmenings ontvang het wat beteken daar is geen bewyse wat daar met belastinggeld gedoen word nie. Verder moet die belastingbetaler ook kennis neem dat hierdie munisipaliteite geensins aan die belangrike wetgewing voldoen nie en grondbelasting is ’n kwessie wat dringend ondersoek moet word.”

Gekwalifiseerde werknemers is verder ’n kwessie wat dringend aangespreek moet word. Sowat R1,26 miljard is aan konsultante bestee wat dienste namens hulle moes verrig.

Hierdie verteenwoordig 11% van die totale koste van finansiële verslagdoening. Daar word ’n beroep gedoen op rolspelers om hierdie aspek aan te spreek aangesien die land reeds in ’n ekonomiese krisis verkeer. Die besparing van hierdie uitgawe kan ’n daadwerklike verskil maak in die oorlewing van munisipaliteite. Hoogs betaalde regeringsamptenare wat nie toepaslik gekwalifiseer is nie, het nou te duur geword vir die land en die belastingbetalers.

TLU SA doen ’n beroep op belastingbetalers om meer dringend as ooit die munisipaliteite te ondersoek vir die geldigheid van eiendomsbelasting. Daar is nie meer die luuksheid van hoogsbetaalde amptenare wat nie-toepaslik aangewend word, konsultante wat ’n hap uit die finansiële inkomste neem en belastingbetalers wat moet opdok vir eiendomsbelasting wat moontlik nie eens geldig is nie. En dit boonop terwyl dienste afgeskeep of geensins gelewer word nie.

Related Articles

Back to top button