LettersOpinion

Brief: Landbou op Springbokvlakte ly weens Eskom se beleid

Hierdie “load reduction”-praktyk knel die landboubedryf en is ontwrigtend.

Bestuur, Springbokvlakte-boerevereninging, skryf:

Terwyl Suid-Afrika juig dat beurtkrag nou al vir 16 dae nie toegepas word nie, struikel landbouprodusente op die Springbokvlakte, oos van Bela-Bela, reeds vir meer as 14 dae met “load reduction”.

Dit word nêrens in die media vermeld nie, maar Eskom sny daagliks van 05:00 tot 07:00 en weer vanaf 17:00 tot 19:00 op twee lyne in die omgewing. Die WL-lyn en die ST-lyn se kragtoevoer word daagliks met 17% gesny. Eskom sê hul kennisgewings word op Facebook en Twitter geplaas, maar dit is nie voldoende nie.

Hierdie “load reduction”-praktyk knel die landboubedryf en is ontwrigtend aangesien:

  • Personeel soggens sonder krag is en nie voedsel kan berei vir die dag nie;
  • Saans wanneer hulle ná werk tuiskom, is die krag weer af en ontwrig dit huishoudings tot ’n groot mate;
  • Pompe vir watervoorsiening aan mens en dier word beskadig deur die gereelde aan- en afskakel van kragtoevoer;
  • Huishoudelike elektriese ware en toerusting op die plase word beskadig;
  • Kragopwekkers moet ingespan word om nodige dienste soos water aan mens en dier te voorsien. Die diesel wat uit noodweer gebruik word, beloop sowat 8% van die totale dieselverbruik op plase. Dit is onbekostigbaar duur en kan nie volhou word nie;
  • Dit is nou oestyd en graanhantering op plase en landboumaatskappye kan nie optimaal funksioneer nie en word by tye tot stilstand gedwing, wat die risiko op graanverliese verhoog;
  • Veiligheid word onder druk geplaas aangesien kwaaddoeners weet watter tye van die dag alarms nie geaktiveer is nie;
  • Rekenaarverbindings (WiFi) en telefoontorings skakel af.

Hierdie ontwrigting is volgens Eskom noodsaaklik aangesien die kragnetwerk onder druk is. Dit is egter nie korrek nie, aangesien alle plase se kragtoevoer aan sekere vereistes en volgordes moet voldoen.

Boere doen aansoek by Eskom vir kragvoorsiening by ’n spesifieke punt. Hierdie aansoek word dan deur Eskom nagegaan om vas te stel of hulle (Eskom) voldoende kapasiteit het. Die proses kan tot ses maande duur. Sodra die aansoek goedgekeur is, word ’n ooreenkoms met Eskom gesluit en is ’n groot deposito ter sprake voordat kragtoevoer voorsien word.

Landmeters kom doen ’n bestekopname en eers daarna kom Eskom se konstuksiewerkers en sorg dat die aansluitingspunt aan al die vereistes voldoen. Aanskakeling vind eers plaas nadat ’n inspekteur van Eskom tevrede is.

Elke landbouer se kragverbruik word individueel gemeet en word maandeliks, voor die voorgeskrewe datum, aan Eskom vereffen. Indien die landbouer in gebreke bly, word die kragtoevoer dadelik ontkoppel.

Nou moet landbouers, wat individuele kliënte van Eskom is, op ’n kollektiewe basis pa staan vir Eskom se onvermoë. Dit terwyl ons primêr verantwoordelik is vir voedselsekuriteit in ons land.
Dit is nie aanvaarbaar nie.

Related Articles

Back to top button