LettersOpinion

Brief: Suid-Afrika een van die gevaarlikste lande vir vroue en kinders, maan Pieter Groenewald van VF-Plus

Die jongste statistiek van die polisie skets in die algemeen ’n donker prentjie oor misdaad.

Dr. Pieter Groenewald, leier van Vryheidsfront-Plus (VF-Plus), skryf:

Nie net is die algemene toename in misdaad kommerwekkend nie, maar ook die skerp toename in ontvoering wat dui op ’n nuwe, ontstellende misdaadtendens in Suid-Afrika.

Die jongste statistiek van die polisie skets in die algemeen ’n donker prentjie oor misdaad. Dit is duidelik besig om buite beheer te raak.

Die opvallendste hiervan is ontvoerings wat teenoor die ooreenstemmende kwartaal verlede jaar met 109,2% toegeneem het.

Hieraan sal dringende aandag gegee moet word om te voorkom dat Suid-Afrika in dieselfde asem genoem word as lande soos Colombië, Venezuela en Sirië.

Alle geweldsmisdaad het toegeneem teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.

Moord het toegeneem met 22,2%, (van 12 133 tot 13 799), poging tot moord met 24,8% (4 582 tot 5 717) en aanranding met die doel om ernstig te beseer met 18,1% (36 417 tot 42 992).

Roof het toegeneem met 13% (9 549 tot 10 787) en roof met verswarende omstandighede met 6,5% (30 768 tot 32 783).

Nog ’n ontstellende verskynsel is die toename in moord op kinders in die ouderdomsgroep 0 tot 17 jaar wat met 37,2% toegeneem het vanaf 223 tot 306 gevalle.

Moord op vroue het ook skerp gestyg met ’n toename van 17,5% (764 tot 898 sake).

Die polisie kan nie langer net beloftes maak oor misdaadbestryding en die beskerming van vroue en kinders nie, maar sal met ’n duidelike strategie na vore moet kom.

’n Groeiende tendens soos ontvoering sal in die kiem gesmoor moet word.

Wat plaasmoorde betref was daar volgens die statistiek 12 moorde in die eerste kwartaal vanjaar teenoor 11 in dieselfde tydperk verlede jaar.

Hierdie statistiek, wat slegs die aantal moorde insluit, skets nie ’n volledige prentjie oor die situasie rondom landelike veiligheid nie en ek het gevra dat die aantal aanvalle ook by die statistiek ingesluit word.

Die toename in misdaad is ontstellend. Dit kan in ’n groot mate toegeskryf word aan die binnegevegte en onenigheid tussen die vorige polisiekommissaris, genl. Kehla Sitole en die minister, Bheki Cele. In die proses is misdaadbestryding agterweë gelaat.

Teen hierdie agtergrond is dit geen wonder dat die publiek toenemend vertroue in die polisie verloor nie. Navorsing toon dat slegs 27% van die publiek nog die polisie vertrou.

Suid-Afrika word ’n gevaarlike land om in te woon en die regering misluk in sy plig om misdaad te bestry. Suid-Afrika en sy mense verdien beter as die ANC.

Related Articles

Back to top button