Local sportSport

Duiweklub sprei weer vlerke vir die nuwe kompetisieseisoen

Lede van die Sonskyn-duiweklub in Bela-Bela het die afgelope twee naweke weer die duiwemandjies gepak in aanloop tot die nuwe wedvlugseisoen.

Die eerste langafstandwedvlug is op Saterdag 11 Junie vanaf Ventersdorp na Bela-Bela gehou. Die duiwe het 270 km in ’n ligte noordoostelike wind afgelê.

Altesame 78 duiwe is in die jongduif-afdeling ingeskryf en in die ope-afdeling is 106 duiwe losgelaat.

Die vinnigste jongduif wat die wedvlug binne 12:26 voltooi het, was uit die hokke van duiweboer Pierre Niemand van Bela-Bela.

Daar was slegs ’n paar minute verskil tussen die topduiwe. Frank Ferreira en Danie Meyer se duiwe het albei op 12:38 ingeklok.

In die ope-afdeling het Meyer se duiwe die eerste drie plekke behaal met ’n beste tyd van 12:36.

Die kompetisie vanaf Kroonstad het op Saterdag 18 Junie oor ’n afstand van 340 km plaasgevind. Die weersomstandighede was baie gunstig en die 130 duiwe wat in die jongduif- en ope-afdeling deelgeneem het, het goeie tye behaal.

Pierre Niemand se jongduif het sy afdeling met ’n tyd van 12:47 gewen.

Ander duiweboere wat hul staal vroeg in die seisoen gewys het, is André Stander, Fanie Lourens, Danie Meyer en Van Reenen Cloete.

Meyer se duif het in die ope-afdeling ’n eerste plek behaal met een van sy veteraanduiwe wat die afstand in 13:09 afgelê het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button