Local newsNews

Gemeenskap bloei weens Phodi-besluit

Die hoop dat die Phodi Clinic in Bela-Bela (voorheen die St. Vincent’s-hospitaal) sy deure gou sal heropen, is ’n nekslag toegedien toe 37 permanente personeellede verlede week afgedank is.

Die Phodi Clinic, het behoorlik uit sy nate gebars tydens die Covid-19-pandemie. Die gange en beddens van dié broodnodige hospitaal staan egter nou tot verdere kennisgewing leeg en verlate (foto’s bo en onder).

Die voorheen spogprivaathospitaal het in April vanjaar sy deure “tydelik” gesluit nadat hul operasionele lisensie na verneem word opgeskort is. Personeellede moes daagliks aanmeld, hoewel hul salarisse gesny is, het ’n betroubare bron aan Die Pos gesê.

Die sluiting van die hospitaal word as ’n enorme verlies vir die Waterberg beskou aangesien geen pasiënte meer daar opgeneem of operasies uitgevoer kan word nie.

Die ongevalle-eenheid word volgens die hospitaal steeds as ’n privaat praktyk bestuur waar pasiënte gestabiliseer kan word voordat hulle na ander hospitale verwys word.

Gerugte het die afgelope week die ronde begin doen dat die ongevalle-eenheid ook intussen sy deure gesluit het.

Die hospitaal is onder die eienaarskap van die Phodiso Management Inc., maar is die afgelope ruk deur African Health Services bestuur.

Ontevrede personeellede het op Woensdag 1 Junie antwoorde van die hospitaalbestuur geëis tydens ’n protesoptrede, maar daar was geen verteenwoordiger van die bestuur om die werknemers te woord te staan nie. Die polisie was wel daar om toe te sien dat die byeenkoms vreedsaam verloop.

Die Pos het afskrifte van die skrywes wat personeellede die afgelope maand van die hospitaalbestuur ontvang het. In die eerste kennisgewing op Vrydag 13 Mei word gesê dat die hospitaal geen vorm van inkomste kon genereer nie en dat die hospitaal se operasionele lisensie opgeskort is. Die skrywe lui verder dat die bestuur na alle waarskynlikheid nie die ooreenkoms sal kan nakom wat in Maart met die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (CCMA) aangegaan is om werkers ten volle te vergoed nie.

Personeellede is amptelik op Maandag 23 Mei in nog ’n kennisgewing ingelig dat hulle dienste opgeskort is. Hulle is skeidingspakkete aangebied en aangeraai om voortaan werkloosheidsversekering te eis.

Van die personeellede het die afgelope week aan Die Pos gesê hulle is onseker oor wat die toekoms inhou. Van hulle het geëis dat die departement van gesondheid hulle na ander hospitale verplaas waar hulle hul vaardighede kan beoefen en kan voorsien in die tekort aan gesondheidswerkers in die land.

Een personeellid, wat anoniem wou bly, het aan Die Pos gesê die hospitaal se slui-ting kan aan swak bestuur toegeskryf word.

“Dit gaan my verstand te bowe hoe ons van ’n funksionele hospitaal wat deur pasiënte verkies is en waar elke saal vol pasiënte was tydens die Covid-19-pandemie, tot op hierdie sak-en-as punt gekom het. Ons moes letterlik hospitaalsale in ander geboue op die perseel skep om sedert 2020 aan die enorme aanvraag vir mediese sorg te voldoen. Van bestuurskant is personeellede egter nie ondersteun nie en is daar heeltyd onrus onder die personeel gesaai oor die toekoms van die hospitaal. Dit het ons baie mismoedig gemaak.”

Die personeellid het gesê hulle is veral bekommerd oor die talle bejaardes in die omgewing wat mediese sorg nodig het en dit nou nie meer plaaslik sal kan kry nie.

“Mense wat mediese fondse het wil in ’n privaat hospitaal behandel word. Soos sake nou staan, sal die gemeenskap ongelukkig bloei.”

Rika Kruger, DA-raadslid, het die personeellede by die hospitaal besoek en vir hul tee en iets om te eet saamgeneem.

“Limpopo is die provinsie met die hoogste werkloosheidsyfer in die land. Die feit dat hierdie personeellede ook nou werkloos is, dra by tot die probleem. Ek voel regtig jammer vir hulle almal,” het Kruger gesê. “Die brandstofprys hou aan styg wat ’n uitdaging is vir mense met mediese fondse wat nou Gauteng toe moet ry vir hospitaalbesoeke.”

Sy het onderneem om die werkers met hul werkloosheidversekeringaansoeke te help.

  • Die Pos se navrae aan African Health Services was teen druktyd steeds onbeantwoord.

Related Articles

Back to top button