NewsSchools

Groot makietie by die Strijdom-teater

'n Uitgelese groep gaste van Mookgophong en naburige dorpe het op Vrydag 3 Junie die koue getrotseer en ’n skitterende vertoning in die Strijdom-teater by Hoërskool Hans Strijdom bygewoon.

Die gaste het die optrede van Esté Pienaar en Henry van Dyk, die gaskunstenaars, so geniet dat sommige tot laataand in die intieme bistro-atmosfeer gekuier het.

Van Dyk is ’n prokureur van Pretoria en bekende tenoor. Hy het in verskeie televisieprogramme verskyn soos Die Groot Ontbyt en Musiek Roulette. Hy het ’n Ghoema-toekenning vir ligte klassieke sang gewen. Van Dyk het reeds drie suksesvolle albums met sy eie komposisies die lig laat sien.

Pienaar is ’n woordkunstenaar by uitstek en afgetrede onderwyser wat tans in Mookgophong woon. Sy is bekroon met ’n Ikoon-toekenning van die Afrikaanse Taal en Kultuur-vereniging (ATKV) vir onderwys en gemeenskapsdiens. Sy het ook ’n Naledi-toekenning ontvang vir beste kunstenaar in gemeenskapsteater.

Pienaar het Piet de Jager se digbundel “Ouhout” saam met Laurika Rauch in die Centurion-teater vrygestel. Die twee kunstenaars tree reeds die afgelope tien jaar landwyd saam op.

“Kraakvars Classics saam met Nicolas Louw, André Schwartz en Burgert Botha was vir hulle ’n hoogtepunt,” het Pienaar gesê.

Die teater bestaan reeds vier jaar en verskeie bekende kunstenaars het al daar opgetree. Daar is sitplek vir 60 gaste en elkeen voorsien hul eie mandjie met eet-en drinkgoed vir die aand.

Related Articles

Back to top button