Hoërskool Nylstroom se wintersport staan einde se kant toe
Die wintersportseisoen vir hoërskole begin einde se kant toe staan.
Die komende naweek vind verskeie semi-finale wedstryde plaas.
Twee van Hoërskool Nylstroom se hokkiespanne het deurgedring na die Limpopo-liga se uitspeelwedstryde wat op Saterdag 11 Junie by Hoërskool Pietersburg in Polokwane plaasvind. Die eerste hokkiespan kom teen die span van Hoërskool Warmbad in die finale ronde te staan en die o.16-span speel uit teen die span van Hoërskool Frans du Toit van Phalaborwa vir die derde- of vierdeplek.
Daar is drie van die Nylies se rugbyspanne wat op dieselfde dag aan die semifinale ronde by die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé in Polokwane deelneem. Die o.14-span speel teen Hoërskool Frans du Toit, die o.15-span teen Curro Heuwelkruin van Polokwane en die o.16-span kom ook teen die span van Hoërskool Frans du Toit te staan.
Die Nylies se netbalspanne het ook ’n goeie seisoen agter die blad. Die o.14A-, o.17A- en die eerstespan speel ook op Saterdag 11 Junie in die Limpopo-finale in Polokwane. Die o.14A-span was derde, die o.17A-span tweede en die eerstespan was tweede in die Waterberg-distrik. Die o.15A-span neem op Saterdag 30 Julie aan die Limpopo-finaal van die Kay Motsepe-skolenetbaltoernooi deel.