MunicipalNews

Dorp sonder water, maar Donkerpoort-dam is vol

Inwoners van Modimolle sukkel die afgelope tyd gereeld met swak waterdruk of soms geen watervoorsiening vanaf die plaaslike munisipaliteit.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het op Vrydagoggend 20 Mei ’n kennisgewing van die waterafdeling aan inwoners aangestuur wat daarop dui dat talle reservoirs se watervlakke baie laag is. In Modimolle was reservoir A, wat deur Magalies Water voorsien word, slegs op 25% terwyl reservoir B, wat die middedorp en nywerheidsgebied voorsien, slegs op 30% kapasiteit was. Die reservoir wat Phagameng- township van water voorsien, was heeltemal leeg en die owerheid se watertrok het deur die strate gery sodat inwoners waterkanne kon volmaak.

Die reservoir in Mookgophong was op 38% en daar is bevestig dat die boorgate in die landelike gebiede in werking is.

Die watertekort het teen Saterdag nie veel verbeter nie met reservoir A op slegs 20% en die reservoir in Phagameng op 9%. Die reservoir wat Modimolle se middedorp en nywerheidsgebied voorsien, het gestyg tot 50% terwyl die reservoir in Mookgophong tot slegs 8% gedaal het.

Sommige inwoners in die hoёrliggende gedeelte van Modimolle om Bosveldsig moes vanaf Vrydag 20 Mei tot laatmiddag op Maandag 23 Mei vir vier dae sonder water klaarkom weens gebarste waterpype in hul omgewing.

Die plaaslike owerheid het inwoners omstreeks 18:00 op Sondag 22 Mei in kennis gestel van nog ’n gebarste waterpyp in Bosveldsig fase 8. Hierdie pyp is eers teen Maandagaand herstel.

In ’n skrywe van die burgemeester op Dinsdag 17 Mei het sy aangevoer dat die huidige watertekorte toegeskryf kan word aan Magalies Water wat glo daagliks minder water aan die munisipaliteit voorsien. Volgens Van Staden voorsien Magalies Water tans slegs die minimumkwota van 4,5 miljoen liter water per dag pleks van die 6 miljoen liter wat hulle die afgelope jaar voorsien het. Die vermindering in watervoorsiening is weens ’n administratiewe oponthoud.

Van Staden het aan Die Pos gesê:

“Die munisipale raad het reeds op Maandag 17 Januarie die nuwe kontrak en betalingsvoorwaardes met Magalies Water goedgekeur. Dit wil voorkom asof die nuwe kontrak nog nie deur die munisipaliteit bekragtig is nie.”

Sy het voortgegaan om inwoners gerus te stel dat die waarnemende munisipale bestuurder, Magda Berrange, dringend hieraan aandag sal gee.

Volgens Van Staden het die Donkerpoort-watersuiweringsaanleg ook nie water aan die dorp voorsien nie weens ’n beweerde tekort aan chloor en kalk wat benodig word in die suiweringsproses. Die plaaslike owerheid het intussen met die verskaffer in verbinding getree om die probleem op te los.

Van Staden het ook verwys na die dorp se verouderde infrastruktuur wat nie gereeld opgegradeer of onderhou is nie. Die munisipaliteit se beperkte fondse bemoeilik ook die herstel van gebarste pype. Die tekort aan voldoende voertuie vir die water- en sanitasie-afdeling se spanne veroorsaak ook dat die herstel van riool- of waterpype vertraag word, het sy aangevoer.

Die invloed van beurtkrag op watervoorsiening moet ook volgens haar in berekening gebring word.

Dit is tydens die owerheid se vierde vergadering op Maandag 23 Mei om die geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP) en begroting met belanghebbendes te bespreek, bevestig dat die munisipaliteit beoog om al die ou asbeswaterpype in wyk 12, wat die grootste gedeelte van Modimolle se dorpsgebied insluit, in die nuwe boekjaar te vervang.

Intussen probeer inwoners alternatiewe planne maak om water op te gaar of boorgatwater te gebruik.

Related Articles

Back to top button