LettersOpinion

Brief: Ons pa se pad was ’n mooi pad

Ons was trots en dankbaar om in die skaduwee van so ’n groot boom te kon staan.

Maritza Ahlers, via e-pos, skryf:

Dit sou moeilik wees om tussen die sonneblomlande van die Springbokvlakte te ry sonder om ’n grondpad te volg wat my pa, Marius Grobler, nie geken het nie.

Hy was hier met sy wortels sterk geanker sedert die laat sewentigs waar hy bekend was as ’n planmaker, staatmaker en steunpilaar.

“Oom Paaip” word met liefde onthou as die oom met die hoedjie en baie byname wat in goedertrou deur sy vriende gegee is.

Generasies van boer en werker het hier saam gegroei en ’n mens hoor gereeld hoe een se oupa saam met jou oupa op die plaas gewerk het. So ook oorvleuel ons hartseer nou.

Dit is maande sedert ons Pa se groet nie meer tussen die rakke van die dorp se NTK gehoor kan word nie, maar ons onthou hom steeds daar.

Die foto van hom wat in die boeresaal op Settlers hang, vergeel en verouder reeds, maar ons kyk eerder na die foto’s waar hy glimlaggend een van sy kleinkinders vashou of met soveel liefde in sy oë na ons ma kyk. Dit sal sy ware nalatenskap wees.

Ons was trots en dankbaar om in die skaduwee van so ’n groot boom te kon staan. As die wortels van ’n groot boom só diep en sterk staan, is daar geen rede om die storms te vrees nie.

Ons is dankbaar vir die onmeetbare blywende ondersteuning van ons gemeenskap, vriende en familie.

Related Articles

Back to top button