Local newsNews

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

Dié pragtige boranbul (lot 8) van Hurwitz Farming is op die Best of Boran-veiling op Saterdag 14 Mei in Pretoria deur André Kock en Seun-veilingshuis vir R225 000 verkoop. Die koper was Black Ox Farming en Ntaba Nyoni. Die bul het ’n puik stamboek en het die beste genetika om ’n kudde mee uit te brei.
Warmpatat: Só lyk die laagwaterbrug in Pretoriusstraat in Modimolle nadat daar buitengewone hoë reën sedert die begin van die jaar in die dorp geval het. Inwoners vertel dat dié gedeelte van die pad nou al weke lank onderwater is wat gelei het tot die vorming van vier enorme slaggate. Die oorgroeide rivierbedding moet ook skoongemaak word sodat die water weer onderdeur die pad kan vloei, het hulle gesê. Daar is daagliks voetgangers wat nou alternatiewe roetes moet vind. Talle motorryers moet gebruik maak van ander paaie om by hul bestemmings uit te kom. Die Pos het navrae aan die plaaslike owerheid se paaie-afdeling gerig oor die herstel van die pad, maar het teen druktyd nog nie terugvoer ontvang nie.
Die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle se jaarlikse Local is Lekker-karnaval op Saterdag 21 Mei was ’n vrolike affêre met heerlike eetgoed en vermaak uit die boonste rakke. Daar is van vroegoggend gekuier, gelag en lekker geëet totdat beurtkrag om 13:00 ingestel is. Die koffiestalletjie was heeldag besig met Poskantoorkoffie (koffie met kondensmelk), kits-cappuccino’s, gewone koffie en tee. By die kosstalletjies was daar iets vir elke smaak van boepensbroodjies (jaffels), kerrie-en-rys, worsbroodjies, gevulde vetkoeke en selfs gebraaide volstruisvleis en wors. Die jongmense het die roomys- en koeldrankstalletjie ondersteun en vir die soettande was daar pannekoek, heerlike tuisgebak en ’n groot verskeidenheid poedings. Chris Coetzer (op die foto) van Suid-Afrika se “Drie Tenore”-faam het gesorg vir vrolike sang saam met Annaretha Anza Naudé wat tussendeur ook met mense by die stalletjies gesels het. Plaaslike kunstenaars het ook gesing en ’n jong dansgroep het later die oggend opgetree. Die geld wat ingesamel is gaan ten bate van die Kokanje-hulpfonds en die verswakte sorgeenheid op die perseel.

Related Articles

Back to top button