Local sportSport

Siekte kry nie hierdie Hansie onder

Cara Louw (16) is ’n kranige en veelsydige atleet van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong wat vanjaar gekies is om aan die Suid-Afrikaanse-kampioenskap in sewekamp (heptathlon) deel te neem.

Die klein en fyngeboude meisie moes teen ander atlete in die o.18-groep deelneem, maar sy het nie ’n bang haar op haar kop nie en het haar nie van stryk laat bring nie. Cara het ’n algeheel sewende plek by dié kampioenskap verower.

Die Suid-Afrikaanse kampioenskap het op Vrydag 29 en Saterdag 30 April in Sasolburg plaasgevind. Sy het op die eerste dag van die kompetisie ’n sesde plek in 100 m-hekkies en 200 m behaal. Sy het ’n vyfde plek in gewigstoot en ’n sewende plek in hoogspring behaal en op Saterdag 30 April het sy die spiesgooi-item gewen, ’n sesde plek in verspring en ’n sewende plek in die 800 m verower.

Wat haar prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat sy in Desember 2021 met Ankylosing Spondolitis (Hla-b27) gediagnoseer is. Dit is ’n outo-immuunsiekte waar haar eie liggaam haar rugstring, grootwerwels en spiere aanval. Dit veroorsaak intense pyn.

“Ons het almal gedink haar sportloopbaan is verby, maar haar onwrikbare geloof en die behandeling van ’n baie goeie rheumatoloog, saam met Cara se deursettingsvermoë en veggees, het gemaak dat die siekte haar nie onderkry nie,” het haar ma, Rinette Louw, gesê.

Die Hansies is ook baie trots op haar omdat dit die eerste keer is dat een van hul atlete aan die sewekampkompetisie deelgeneem het.

“Dit was vir my ’n groot droom wat waar geword het, asook ’n wonderwerk om steeds aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap te kon deelneem,” het Cara aan Die Pos gesê.

“Ons glo en bid dat Cara eendag pynvry sal wees en ’n groot getuienis van genade sal wees,” het haar ma gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button