MunicipalNews

Modimolle se Sarna se bedank uit pos

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, wat ’n stormagtige afskop na afloop van die munisipale verkiesing op 1 November 2021 gehad het, is steeds nie op geoliede wiele nie.

Skaars ses maande ná die verkiesing het die DA-wyksraadslid van Wyk 12, wat die grootste gedeelte van Modimolle se dorpsgebied insluit, bedank. Volgens die DA het Sarna Groenewald, wat sedert 2016 in hierdie posisie gewerk het, in Mei bedank weens persoonlike omstandighede. Hoewel sy voortaan nie meer ’n raadslid sal wees nie, ondersteun sy nog steeds die DA-party in Modimolle. Sy beoog om die nuwe kandidaat touwys te maak sodat die oorname sonder haakplekke kan voortgaan.

Groenewald se laaste kommunikasie aan die inwoners van Wyk12 was op Vrydag 13 Mei rakende die rioolprobleem op die hoek van Kerk- en Joubertstraat. Sy het inwoners in kennis gestel dat sy vir die volgende 12 dae met verlof is en geen selfoonsein sal hê in daardie tyd nie. Inwoners kon intussen alle navrae en dienslewerinsprobleme aan die burgemeester, Marlene van Staden, rig.

Desirée van der Walt, DA- parlementêre lid in Limpopo en skadu-adjunkminister van basiese onderwys, het tydens ’n onderhoud gesê dit is jammer om so ’n bevoegde persoon soos Groenewald as raadslid te verloor.

“Sarna het in haar termyn as raadslid werklik die ekstra myl geloop om in diens van haar gemeenskap te staan,” het sy gesê. “Ek wil haar namens die DA bedank vir haar toegewydheid en harde werk om deurgaans alle diensleweringskwessies by die plaaslike owerheid aan te meld en die vordering daarvan op te volg.”

“Die plaaslike owerheid se grootste uitdaging is swak dienslewering en ’n gebrek aan geld om die nodige infrastruktuur en voertuie in stand te hou. Dit is dus vir die DA uiters belangrik om die beste moontlike kandidaat aan te stel vir hierdie uitdagende taak,” het Van der Walt gesê.

Sy het bygevoeg dat die DA tydens die 2021-plaaslike verkiesing 72,4% van die stemme in Wyk 12 gewen het.

Die DA het in ’n amptelike skrywe op Vrydag 13 Mei ’n uitnodiging aan alle DA-kandidate wat in die Modimolle-Mookgophong munisipale gebied woon, gerig om aansoek te doen vir hierdie vakature. Kriteria sluit onder meer in ’n matrieksertifikaat, asook minstens twee jaar ondervinding in politieke aktivisme in die gemeenskap. Ondervinding in bestuur, vaardighede in samesprekings, asook leierskapseienskappe word in aanmerking geneem. Geskikte aansoekers sal eersdaags voor ’n keuringspaneel verskyn vir ’n onderhoud.

Intussen gaan die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) voort om ’n tussenverkiesing te reël vir inwoners van Wyk 12. Ingevolge wetgewing moet hierdie verkiesing binne 90 dae vanaf die datum waarop die setel vakant is, gehou word. Alle stemgeregtigde kiesers wat in Wyk 12 geregistreer is, sal kan stem vir die nuwe kandidate in hul wyk. Indien geen van die ander politieke partye aan die tussenverkiesing wil deelneem nie en daar dus slegs een verkiesbare DA-kandidaat is, sal dit nie nodig wees vir die OVK om ’n verkiesing te hou nie.

  • Hou gerus Die Pos dop vir die datum waarop die tussenverkiesing sal plaasvind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button