MunicipalNews

Slagpale in die hof oor beweerde storting van diere-afval

Die Waterberg-distrik munisipaliteit is sedert die begin van 2019 in ’n hofstryd gewikkel weens die beweerde onwettige storting van afvalwater deur die Modimolle-abattoir.

Hier is die mangat wat op Maandag 9 Mei oorstroom het met diervet en bloederige water wat oor ’n groot gebied gestroom het. Die verstikkende reuk het vir dae lank in die lug gehang terwyl brommers en vlieë in die afvalwater geboer het.

Die abattoir is in die nywerheidsgebied van Modimolle reg langs ’n waterkanaal geleë wat by die Klein Nylrivier aansluit en uiteindelik tot in die sensitiewe Nylsvley-bewaringsgebied loop.

Luidens hofdokumente wat in die Modimolle-streekhof aangehoor word is twee aanklagte ter sprake waarin die distriksmunisipaliteit, wat verantwoordelik is vir die slagpale, deur die departement van omgewingsake tot verantwoording geroep word.

Klag 1 verwys na die beweerde onwettige storting van afval wat kan lei tot die besoedeling van die omgewing ingevolge die nasionale omgewingsbestuurwet oor die bestuur van afval. Luidens die klagstaat het die Modimolle-slagpale op 22 Januarie 2019 rou afval in die vorm van dierebloed wat nie vooraf behandel is nie onwettige in die afvoerpype gestort. Dié storting, wat in die plaaslike munisipaliteit se rioolpype beland het, het glo gelei tot die besoedeling van die omgewing wat talle gevare vir die omgewing en inwoners inhou.

Klag 2 behels die beweerde opsetlike optrede van die slagpalepersoneel met die wete dat dit ’n negatiewe uitwerking op die omgewing sal hê. Die slagpale word ook daarvan beskuldig dat hulle die onwettige storting wat op 22 Januarie 2019 plaasgevind het, van die owerhede weerhou het.

Hoewel die slagpale aan die distriksmunisipaliteit behoort, moet die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit die nodige dienste verskaf. Die herhaalde probleme met verstopte rioolpype duur al jare lank sonder enige volhoubare langtermynoplossings voort.

Die Pos het van ooggetuies verneem dat daar weer op Maandag 9 Mei onverwerkte dierevet en bloederige afvalwater by ’n mangat reg langs die slagpale se heining uitgestroom het. Die afval het oor ’n groot gebied gevloei en in die grondpad, wat na die graansilo’s lei, opgedam. Dae later was die afval en water steeds sigbaar met ’n verstikkende reuk wat in die lug gehang het.

Swerms brommers en vlieё het ook daar saamgedrom.

Volgens Albie Modise, woordvoerder van die departement van omgewingsake, het hy die gebied op Maandag 9 Mei saam met die Groen Skerpioene besoek om ondersoek in te stel.
Ben Smit, plaaslike gesondheidsinspekteur in Modimolle, het verduidelik dat ’n slagpale gewoonlik dierebloed in die rioolnetwerk stort.

“Daar was in die verlede sakeondernemings wat die bloed gekoop het om in kos vir diere (soos hondekos) te gebruik, maar dit het ongelukkig doodgeloop.”

Volgens wetgewing moet enige dierafval vooraf op die betrokke perseel behandel word voordat dit in die riool gestort word.

“Daar is destyds ’n gedeelte van die riool-pyplyn by die abattoir vervang, maar die deursnee van die pype is steeds te nou vir die hoeveelheid riool wat vanaf die woongebied en ander sakeondernemings in die nywerheidsgebied kom.”

Hy het verduidelik hoewel Meat Rite oorkant die abattoir geleë is, word daar nie met enige bloed op hul perseel gewerk nie.

“Hulle sisteem om diervet en afval op te vang is ook volgens die voorgeskrewe regulasies. Ek twyfel dus baie sterk of die probleem daar ontstaan,” het hy gesê.

Smit, wat al jare lank vir die Waterberg-distrikmunisipaliteit as gesondheidsinspekteur werk, hanteer al die gebiede rondom Modimolle wat Mookgophong, Vaalwater, Melkrivier en Tuinplaas insluit.

John Koka, die Waterberg-distrikmunisipaliteit se afdelingshoof van die abattoir, het tydens ’n onderhoud op Maandag 16 Mei beweer dat hy nie bewus was van die onlangse oorstroming van afval by die slagpale nie. Koka het gesê diere word van Maandae tot Vrydae by die slagpale geslag. Hy is glo elke dag vanaf 07:30 op die perseel totdat die slagwerk vir die dag afgehandel is.

Die hofsaak is uitgestel tot Vrydag 10 Junie.

Related Articles

Back to top button