MunicipalNews

Rioolwater dam op langs nuwe laagwaterbrug

Die konstruksie van ’n laagwaterbrug in Limpopostraat, wat aansluit by Joe Slovostraat in Modimolle, is deur die swaar reën van die afgelope paar maande vertraag.

’n Kontrakteur wat besig is om die laagwaterbrug op te rig het op Vrydag 13 Mei ’n groot hoeveelheid grond in die riooldam gegooi sodat werk aan die brug kon voortgaan.

Buiten die reënwater wat die heeltyd by die basis van die brug opdam, is daar ook gereeld rioolwater wat vanaf die woongebied kom en langs die konstruksieperseel in die rivierbedding opdam.

Inwoners van die Jasnia-kompleks in Joe Slovostraat, wat reg langs die rivierbedding en oorkant die konstruksieperseel woon, kla reeds sedert 2019 by die plaaslike owerheid oor die rioolwater wat gereeld deur hul kompleks tot in die rivierbedding vloei. Dit het gelei tot die vorming van ’n riooldam enkele meters vanaf die kompleks se grensdraad.

Volgens Krappie Botes, inwoner van die Jasnia-kompleks, het hierdie riooldam die werkers se werk op die perseel bemoeilik. Derhalwe het die kontrakteur op Vrydag 13 Mei groot hoeveelhede grond oor die riooldam gegooi sodat die werk aan die laagwaterbrug kon voortgaan.

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se water- en sanitasie-afdeling het op Donderdag 5 Mei ’n mediaverklaring uitgereik waarin hulle die inwoners inlig oor ’n hele aantal blokkasies in die rioolnetwerk van die dorp. Hulle beweer dat die hoë reënval in Maart en April veroorsaak het dat baie grond, klippe en gemors in die hoofpyplyn beland het.

Volgens die owerheid loop die dorp se hoofpyplyn al langs die Klein Nylrivier (Limpopostraat) wat weens meer en meer aansluitings nie voldoende houvermoë het om die hoeveelheid riool, grond en gemors te hanteer nie. Gevolglik is daar deurlopend blokkasies in die laagliggende dele van die dorp wat Limpopo-, Joe Slovo-, Lillian Ngoyi- (Stasiestraat), Van Riebeeck- en Paul Krugerstraat insluit.

Die munisipaliteit het verskoning gevra en gevra dat inwoners geduldig moet wees totdat die blokkasies herstel kan word omdat die munisipaliteit oor beperkte mannekrag en toerusting beskik.

Talle inwoners het egter aan Die Pos gesê dit bly ’n groot bron van kommer omdat bykans al die rioolwater in hierdie omgewing steeds direk in die Klein Nylrivier vloei.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button