CrimeLocal sportNewsSport

Man oorlede terwyl hofsaak oor beweerde aanval voortduur

Marius “Paaip” Grobler (68), afgetrede boer van die Springbokvlakte, is op Vrydag 6 Mei in die Warmbad Rusoord Tehuis vir Bejaardes in Bela-Bela weens gesondheidskomplikasies oorlede.

Die Pos het in Augustus 2021 berig oor ’n voorval waarin Grobler aangevoer het hy is in ’n padwoede-aanval aangerand.

Grobler was onderweg na sy tuiste op die Thaba Monate-wildreservaat buite Bela-Bela toe hy ’n ander voertuig geskraap het waarna ’n onderonsie tussen hom en die insittendes van die ander voertuig ontstaan het.

Grobler is glo tydens die woordewisseling aangerand. Hy is in die hospitaal opgeneem en moes ’n heupvervangingsoperasie ondergaan. Volgens sy familie het sy gesondheid drasties versleg ná die voorval.

Die twee beskuldigdes, Gert Müller en John Robinson van Boksburg, het reeds in die hof verskyn. Verlengde borgtog is aan Müller toegestaan en Robinson is op waarskuwing vrygelaat. Albei is van poging tot moord aangekla.

Die hofsaak het op Dinsdag 17 Mei in die Bela-Bela-landdroshof voortgeduur en is uitgestel na Dinsdag 7 Junie.

Volgens ’n woordvoerder van die polisie moet ’n nadoodse ondersoekverslag oor die oorsaak van Grobler se dood nou ingedien word voordat besluit kan word wat met die hofsaak gebeur.

Grobler was bemind en geliefd op die Springbokvlakte. Sy gedenkdiens het reeds op Vrydag 7 Mei by die Lord Milner School-kapel in Settlers plaasgevind.

Hy is in 1954 in die destydse Nylstroom (nou Modimolle) gebore. Hy het sy laerskoolloopbaan in die Lehau-omgewing in Settlers begin waarna hy later by die Tom Naudé Tegniese Skool in Pietersburg (Polokwane) sy matriek behaal het.

Hy het ná skool sy vakmanskap by die Suid-Afrikaanse Spoorweë in Germiston begin, maar skaars ’n jaar daarna moes hy aanmeld vir diensplig in die weermag. Hy is met sy tegniese ervaring dadelik by die meganiese weermag-afdeling (die “tiffies”) ingedeel.

Met sy diensplig agter die rug het hy in Koedoespoort sy vakmanskap voortgesit en as ’n dieselwerktuigkundige gekwalifiseer. Hy het ook elektriese pas- en draai-
werk gedoen.

Sy ma, Martie, is kort nadat hy sy ambag voltooi het, oorlede. Hy het dadelik teruggekeer na die Springbokvlakte om sy pa, Piet, en sy broer, Cor, op die gesin se plaas, Benwell, te help met die boerdery.

Grobler en sy vrou Martie is in 1980 getroud en het vyf kinders gehad.

Grobler het in 1998 sy plaas verkoop en op die plaas Worthing in Settlers gewerk. Hulle het ná bykans 10 jaar na Frankfort verhuis waar Grobler met beeste geboer het. Hulle het egter die besonder koue klimaat van die Vrystaat onderskat en hy en Martie het teruggekom Springbokvlakte toe waar hulle in 2018 op die Thaba Monate-wildreservaat afgetree het.

Sy gesin sal hom onthou vir die waardes waarmee hy hulle toegerus het om die lewe te waardeer en om lief te wees vir diere, die natuur en hul medemens.

Hy word verder onthou vir sy skerp humorsin en sy spesiale band met elk van die gesinslede en sy geliefde vrou, Martie.

Related Articles

Back to top button