CrimeNews

Loerbroer kyk vir skelms in die Waterberg

Die uitgebreide kamera-netwerkstelsel wat nasionale paaie en sommige landelike gebiede in Limpopo moniteer word suksesvol gebruik om misdaad in dié gebiede te bekamp.

Motorryers merk al geruime tyd op dat kamera-netwerke uitbrei en al hoe meer inwoners raak betrokke by buurtwagte en privaat veiligheidsondernemings wat die netwerke oprig en in stand hou.

Verskeie suksesvolle inhegtenisnames is al danksy hierdie stelsels, in samewerking met buurtwagte, die polisie en privaat veiligheidsondernemings uitgevoer.

So ’n stelsel, wat direk ingeskakel is op die nasionale verkeersinligtingsentrum (Natis), is aanvanklik in 2017 in die Bela-Bela-omgewing in werking gestel. Privaat veiligheidsondernemings en Business Against Crime se nasionale oë-en-oreprogram is ook op die stelsel ingeskakel.

Belanet-internetdienste het in 2017 saam met die Klein Kariba-buurtwag, onder leiding van Kobus Germishuys, bekende boer van die omgewing, met ’n soortgelyke projek in Bela-Bela begin.

Die netwerk is uitgebrei nadat inwoners betrokke geraak en donasies vir die uitbreiding van die netwerk gemaak het.

Daar was egter ’n behoefte aan ’n 24 uur-beheerkamer om die magdom beeldmateriaal op die paaie te moniteer en ook data van ander instansies te verwerk. Enige verdagte aktiwiteite kan dan dadelik opgevolg word.

Adolph Vosloo, Belanet-eienaar, het in September 2021 die Tiaan Oosthuizen Gedenk-beheerkamer (TOM) tot stand gebring om gemeenskapsveiligheid te bevorder.

Oosthuizen, Vosloo se stiefpa en oudspeurder, is in 2017 tragies oorlede nadat hy in die Buyskop-omgewing in ’n fratsongeluk doodgeskiet is. Die beheerkamer is ter nagedagtenis aan Oosthuizen tot stand gebring en is die enigste van sy soort in die Waterberg-omgewing.

Alexandra Marais, huidige operasionele hoof, het by navraag gesê die stelsel sal gebruik word om verdagte voertuie dop te hou en om die rolspelers in kennis te stel as daar verdagte voertuie in hul omgewing opgemerk word. Voorsorgmaatreëls kan dan getref word.

Die netwerk stel hulle in staat om voertuie wat reeds by misdaad betrokke was, te identifiseer en gesteelde voertuie wat die gebied binnekom of met vals nommerplate ry, op te spoor. Enige verdagte aktiwiteite word by die polisie en buurtwagte aangemeld.

“Dit is nie vir die publiek so maklik om direkte toegang tot die stelsel te verkry nie. Ons is baie versigtig wie ons toelaat,” het sy gesê. “Elke rolspeler moet ’n vorm teken wat hulle magtiging gee om toegang tot die inligting te gee. Geakkrediteerde mense stuur die verdagte voertuie se inligting na ons beheerkamer waarna ons dit opvolg en die inligting aanstuur.

Mense wat lukraak voertuie afneem en foto’s versprei, stel hulself bloot vir lastereise daarom is dit beter dat inwoners liefs verdagte inligting na die regte mense deurgee,” het sy gesê.

Die kameras wat op die pale opgerig is, is só geprogrammeer dat ook outomatiese beeldmateriaal en waarskuwings uitstuur wanneer iemand probeer om die kamera te beskadig.

Mense wat by die netwerk wil inskakel of ’n bydrae wil maak, kan hulle skakel by tel. 087 654 9201,

Related Articles

Back to top button