Local sportSport

Langasems reg vir swemklub-marathon

Die Warmbad-swemklub in Bela-Bela beplan om die langasems van die dorp en omgewing op die proef te stel op Saterdag 21 Mei wanneer dié klub ’n ses-ure marathon by Hoërskool Warmbad se swembad aanbied.

Die marathon begin om 10:00 en sal teen 16:00 eindig. Swemmers wat wil deelneem, kan gerus wees dat die water verhit is en dat die byeenkoms afgehandel sal wees voor die laatmiddag se geniepsige koue begin byt.

Lee-Anne Smit, swemafrigter by die klub, het gesê die marathon word beoog as fondsinsamelingsprojek om die swemklub te bevorder en uit te bou. Hulle het ook geld nodig om toe te sien dat die swembad verhit word sodat swemaktiwiteite nie deur die winterseisoen onderbreek word nie.

“Ons het in 2020 die laaste marathon gehou. Die idee met die marathon is dat elke deelnemer soveel lengtes swem as wat hulle wil en vir elke lengte word ’n bedrag van R2,50 aan die klub geborg.”

Swemmers se inskrywingsfooie beloop R100 en toeskouers betaal R10.

“Afrigters verkies dit dat swemmers nie deur die jaar hul afrigting onderbreek nie. Dit beïnvloed hul vordering in die volgende seisoen. Die swemklub wil ’n wesenlike bydrae maak tot die onderhoud en verhitting van die swembad. Dit is tot voordeel van elke swemmer.”

Smit het gesê daar is heelwat belangstelling en sy moedig inwoners aan om deel te neem aan die dag.

“Daar is ’n beperking op die totale aantal lengtes wat geswem mag word. Die klub het besluit om 160 lengtes as die maksimumteiken te stel. Leerders van Laerskool- en Hoërskool Warmbad se leerderraad sal help met tellinghou en ander administratiewe pligte langs die swembad.”

Die jong swemmers van die Learn to Swim-swemskool sal tydens die marathon aan ’n 25 m-swembad blootgestel word ter voorbereiding van swemgalas wat vir hulle voorlê, het sy gesê.

“Daar sal elke uur ’n bykomende kompetisie gehou word, soos byvoorbeeld vir die swemmer wat die verste onder water kan swem. Die swemmers wat die meeste lengtes swem, sal ook pryse wen. Dit beloof om ’n pretdag vir oud en jonk te wees.”

Familie en vriende wat die swemmers wil ondersteun, is hartlik welkom. Verversings sal by die swembad verkoop word.

Vir navrae en inskrywings kan mense vir Smit bel by tel. 078 485 9722.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button