Local newsNews

Kompetisie vir digters en skrywers

Langenhoven het gesê: “Om jou een, eie taal, tot nut te gebruik is ’n groter kuns as om sewe vreemde tale by te leer.”

Hiermee word digters en kortverhaalskrywers van alle ouderdomme wat graag hul Afrikaanse taalvaardighede en kreatiwiteit ten toon wil stel, genooi om in te skryf vir die jaarlikse dig- en skryfkompetisie wat deur Ink Skryf in Afrikaans aangebied word.

Die Pos het met Anzé Bezuidenhout, stigter van Ink Skryf in Afrikaans, gesels oor haar liefde vir skryfkuns in Afrikaans.

Ink Skryf in Afrikaans is ’n onafhanklike platform wat skryfwerk in Afrikaans bevorder. Ek het die platform ’n paar jaar gelede begin omdat ek gesien het geleenthede vir Afrikaanse dig- en skryfwerk op die internet is baie beperk. Ink het só vinnig gegroei dat dit nou behoorlik uit sy nate bars,” het sy gesê.

Lede se gedigte en kortverhale word gereeld op die Ink-webwerf en Facebook-blad geplaas.

Bezuidenhout het verduidelik die doelwit van die kompetisie is om gehalte poësie en kortverhale in Afrikaans te bevorder en aan die publiek beskikbaar te stel in bloemlesings. Die beste gedigte en kortverhale sal na afloop van die kompetisie in drie afsonderlike bundels opgeneem word: Inspraak (gedigte), Inspraak (kortverhale) en Inspraak (skoliere) wat tydens die galageleentheid in November bekend gestel sal word.

“Ons het bykans 3 500 inskrywings in 2021 ontvang en daar is reeds heelwat inskrywings vir vanjaar se kompetisie,” het sy gesê.
“Daar word altesame vier wenners aangewys — ’n skolier en ’n volwassene in die kortverhaalafdeling, asook in die gedigte-afdeling. Bo en behalwe ’n kontantprys ontvang die wenners ook boekpryse wat deur Pharos geskenk word. Die Groep 7 Drukkers wat onder meer ook die Inspraak-bundels druk, sal aan vier skrywers of digters die geleentheid bied om hul eie kortverhaal- of digbundel te publiseer,” het Bezuidenhout verduidelik.

Karen Zoid, sanger, liedjieskrywer en TV-aanbieder, en Jackie Nachtegaal, advokaat en bekroonde skrywer, is die beskermvroue vir die dig- en skryfkompetisie wat deur nege beoordelaars waaronder Ian Raper en Francois Terblance, asook ’n onafhanklike paneel, beoordeel word.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), AfriForum, Afrikaanse Taalmonument en die Historium Trust tree as hoofborge op.

Volgens Bezuidenhout sal die top-12 inskrywings na verwagting aanstaande jaar in een van die Taalmonument se tuine uitgestal word.

Kranige skrywers en digters kan op die webwerf www.ink.org.za, registreer om deel te neem aan vanjaar se kompetisie. Inskrywings moet voor Donderdag 30 Junie ingestuur word.

Bel vir Anzé Bezuidenhout by tel. 082 648 0284 vir navrae.

Related Articles

Back to top button