Local newsNews

Werkersvakbonde tree in by Phodi Clinic oor salarisse

"Ons moet steeds elke dag vir werk aanmeld in ’n hospitaal waar geen pasiënt opgeneem word nie." — Personeellid

Die Phodi Clinic, ’n privaat hospitaal in Bela-Bela, se deure is nou al ses weke lank vir nuwe opnames en operasieprosedures gesluit.

Die hospitaal het sy deure amptelik op Vrydag 1 April vir nuwe opnames gesluit. Geen operasies kon sedertdien by dié hospitaal uitgevoer word nie. Pasiënte word in die meeste gevalle na ander hospitale in Gauteng verwys.

Die ongevalle-eenheid is volgens die hospitaalbestuur steeds oop om pasiënte te stabiliseer wat ernstige mediese hulp nodig het. Dié eenheid word as ’n privaat praktyk bestuur.

Die presiese redes waarom die hospitaal slegs beperkte dienste lewer, kan sover verneem word toegeskryf word aan “interne bestuursuitdagings”. Volgens sekere personeel, wat nie hul name genoem wou hê nie, is die hospitaal se operasionele lisensie tans nog uitstaande.

Dit het sedertdien aan die lig gekom dat verskillende vakbonde namens hospitaalpersoneel, wat hul lede is, optree om salarisse wat glo uitstaande is, te eis. Van die personeellede het dit aan Die Pos bevestig.

“Ons ontvang sedert Januarie maandeliks slegs die helfte van ons salarisse, maar ons kontrakte is nooit gewysig nie. Personeellede is baie ongelukkig, want die bestuur kommunikeer glad nie met ons nie. Ons wil baie graag werk. Van ons het ons internskappe destyds by dié hospitaal gedoen en koester mooi herinneringe oor ons tyd hier. Geen werknemer kan egter met die halwe salaris wat ons tans ontvang, kop bo water hou nie.”

Van die vakbonde wat die werknemers verteenwoordig, sluit in Solidariteit, die nasionale gesondheids- en geallieerde werkersunie (Nehawu), gesondheid- en ander dienstepersoneel-vakbond van Suid-Afrika (Hospersa) en die demokratiese verpleegorganisasie van Suid-Afrika (Denosa), het van die personeellede aan Die Pos gesê.

Freddy Pheli, streeksorganiseerder van Nehawu, het by navraag gesê daar is baie ander sake as bloot uitstaande salarisse wat dringend aandag verg by die hospitaal.

“Die situasie met die salarisse het reeds in 2021 begin. Ons het dit opgeneem met die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie (CCMA) waarna die bestuur aanbeveel is om die werknemers te vergoed. Ons het later verneem dat die bestuur planne beraam om die personeel geleidelik uit diens te stel,” het hy gesê.

“Die hospitaal se ouditverslae het ons verder laat kopkrap. Die hospitaal is sedert sy oorname in 2017 deur die Phodiso Management and Consulting-maatskappy bestuur. Nou hoor ons ewe skielik dat dit deur African Health Services bestuur word. Die direkteure steek dinge vir ons weg. Verdere vergaderings sal in die nabye toekoms belê word.”

Pheli het gesê indien die bestuur nie by die ooreenkomste hou om hul werknemers te vergoed nie, sal die direkteure die gevolge moet dra.

Navrae deur Die Pos aan African Health Services, wat tans die Phodi-kliniek bestuur, is teen druktyd nie beantwoord nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button