CrimeNews

Vermeende inbreker op vrye voet

Voorvalle van inbraak en diefstal by klein sake-ondernemings neem toe in Modimolle.

Dit kan grootliks toegeskryf word aan die hoё werkloosheidsyfer en benarde ekonomiese omstandighede.

Wiets Botes, eienaar van ’n sakeperseel in Modimolle se hoofstraat, het aan Die Pos vertel dat een van die winkelhuurders hom omstreeks 18:00 op Woensdag 4 Mei in kennis gestel het van ’n verdagte persoon wat besig was om in te breek.

Botes het die plaaslike sekuriteitsfirma laat weet en een van hul reaksiespanne was binne 10 minute op die toneel waar die vermeende inbreker op heterdaad betrap is.

Volgens Fanie Pretorius, operasionele bestuurder van Jumas Sekuriteit en opgeleide privaat speurder, was hy omstreeks 18:20 op die perseel waar die vermeende inbreker aangehou is. Pretorius het die polisie in kennis gestel van die inbraak. Terwyl hulle vir die polisie gewag het om op te daag, het Pretorius die vermeende inbreker ondervra.

Die man (19) het eers verskeie vals name gegee en aangevoer hy kom van Mpumalanga af, maar daar is later vasgestel dat die man in Phagameng woon. Volgens Pretorius het die man vlot Afrikaans en Sepedi gepraat en het hy die erns van sy oortreding besef. Hy het voortgegaan om te demonstreer hoe hy by die veiligheidshek ingekom het tot binne in die stoorkamer, terwyl dit van buite af voorkom asof die hek en deur steeds gesluit is.

Daar is ook bewerings dat die man glo probeer het om twee van Jumas se personeellede om te koop sodat hulle hom kon loslaat voordat die polisie opdaag.

Botes het aan Die Pos vertel dat hy omstreeks 19:00 op die toneel was. Hy kon nie dadelik vasstel of daar enige items vermis word nie, want die betrokke vertrek word as stoorplek gebruik vir tweedehandse ware wat op veilings gekoop en verkoop word. Botes het verduidelik dat daar wel ’n paar items die afgelope paar maande vermis geraak het, maar telkens was die stoorkamer se veiligheidshek gesluit en kon hulle nie vasstel hoe ongemagtigde persone toegang tot die stoor kon verkry nie.

Die plaaslike polisiebeamptes het volgens die sekuriteitskamera se opnames eers omstreeks 19:12 opgedaag. Nadat hulle die verdagte, wat aan hul bekend was, op die toneel ondervra het, het hulle Botes meegedeel dat die man nie toerekeningsvatbaar is nie en aan een of ander geestesversteuring ly waarna hul hom vrygelaat het.

By nadere ondersoek is daar vasgestel dat die vermeende inbreker glo al geruime tyd bedrywig is in die omgewing en moontlik saam met een of twee medepligtiges werk.

Volgens AO James Findlay, polisiewoordvoerder, is daar intussen ’n klag van huisbraak gelê en word die saak deur die polisie ondersoek. Indien enige inwoners beskik oor bykomende inligting kan hul die polisie bel by tel (014) 718 1190 of die noodnommer by tel. 0860 010 111.

Related Articles

Back to top button