LettersOpinion

Brief: ANC moet pa staan vir land se behuisingsprobleem

Die naam vir Suid-Afrika se behuisingsprobleem is welbekend. Dit word ANC genoem.

Piet Mey, Vryheidsfront-Plus (VF Plus) -LP en hoofwoordvoerder: Menslike nedersettings, skryf:

Die naam vir Suid-Afrika se behuisingsprobleem is welbekend.

Dit word ANC genoem. Die redes is wyduiteenlopend maar ewe bekend: Van regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) waarin kaderontplooiing en korrupsie gedy, tot onbevoegdheid op alle vlakke.

Voeg hierby ’n gebrek aan die politieke wil om toekomstige probleme deur faktore soos onbeheerde instroming die nek in te slaan, en dit skep ’n behuisingskrisis wat rampspoedige gevolge kan inhou. Die vrees vir veral onwettige besettings en die gevolge daarvan in stedelike gebiede, is besig om daagliks meer sigbaar te raak.

Die ironie van hierdie tikkende tydbom is dat daar wel grond om metro’s beskikbaar is vir behuising. Dit het die VF-Plus jare gelede reeds vasgestel met amptelike vrae oor die aangeleentheid.
In 2020 het die minister van water, sanitasie en menslike behuising, Lindiwe Sisulu, op versoek van die VF- Plus ’n opname gemaak oor beskikbare munisipale en staatsgrond om metro’s wat aangewend kan word vir die ontwikkeling van behuisingsprojekte.

Volgens haar was daar toé sowat 14 000 hektaar beskikbaar. Die grond moes net gehersoneer word tot residensiële eiendom.

Die huidige situasie maak dit duidelik dat geen wesenlike beplanning gedoen is om die grond beskikbaar te stel nie. Die voorspelbare gevolge begin nou realiseer.

Die probleem word vererger met gebiede wat beset word wat nie vir behuising geskik is nie, wat vir ander ontwikkeling geoormerk is of waar dienste moeilik gelewer kan word.

Die onvermydelike gevolg hiervan is dat humeure opvlam weens ’n gebrek aan dienste en dat groot ontwrigting en skade die gevolg is van protesoptrede wat almal in die gebied ontwrig.

Goeie verhoudings tussen mense word in die proses vernietig en intussen raak die agterstand in die bou van huise jaarliks net groter.

Waar daar wel behuisingsprojekte plaasvind, word enige vordering ontdaan gemaak deur die gevolge van RA en SEB waar kaderbevoordeling veel belangriker is as vakmanskap, kundigheid of dienslewering.

In Misgund in die Oos-Kaap is 300 huise gebou wat alles weer afgebreek en oorgebou moes word.

In Vrede in die Vrystaat is ’n behuisingsprojek van R150 miljoen toegeken aan ’n kontrakteur waarvan die dogter van die ANC se gewese sekretaris-generaal, Ace Magashule, ’n aandeelhouer is.

Die gevolge was voorspelbaar en die projek is nie eens voltooi nie. Die mense wat vir die gelag betaal, is die belastingbetalers van Suid-Afrika.

Daar bestaan geen twyfel nie dat die bou van bekostigbare behuising versnel moet word. Die huidige situasie is onhoudbaar en stuur op rampspoed af.

Dit sal egter nooit kan gebeur onder ’n ANC-regering aan wie korrupsie onlosmaaklik verbind is nie. Suid-Afrika se mense verdien beter as die ANC.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button