Local sportSport

Pretloop vir ’n goeie saak

Die jaarlikse pretloop vir die bewusmaking van die siekte, Congenital disorders of glycosylation, (CDG) vind weer op Maandag 16 Mei vanaf Hoërskool Warmbad plaas.

Die pretloop is tydens die Covid-19-pandemie afgelas.

Die pretloop — nou bekend as die Rear on the Road Run-Walk — val op wêreldwye CDG– bewusmakingsdag.

Theunis en Chantelle van Schalkwyk van Bela-Bela is by die bewusmakingsveldtog van die siekte betrokke sedert hul dogter, Stefani, kort ná haar geboorte met hierdie seldsame siekte gediagnoseer is. Stefani vier vanjaar haar agtste verjaardag.

Weldoeners en ondersteuners in die gemeenskap samel al jare lank geld in om haar lewensverwagting te verleng met intensiewe behandeling en om haar mediese koste te help dek.

Jonk en oud kan Maandagmiddag aan die 3 km-, 5 km- of 10 km pretloop deelneem en deel vorm van die samesyn en ondersteuning van Stefani, het Chantelle gesê.

Mense kan hul drafskoene aantrek, met ’n stootwaentjie of kinders met hul skopfietse opdaag en deelneem. Almal is hartlik welkom.

’n Nuwe item, die 1,5 km-pretloop, is geskep om bejaardes en kleuters ook die geleentheid te gee om die saak te ondersteun.

Altesame 18 pryse sal op die dag toegeken word vir die top drie per kategorie — seuns en meisies, mans en vroue.

Slegs laerskoolleerders sal in aanmerking kom vir pryse tydens die 3 km-pretloop.

’n Gelukkige trekking sal ook plaasvind. Verskeie kosstalletjies sal beskikbaar wees voor en na die geleentheid. Mense wat nie kan deelneem nie, is steeds welkom om die feesgeleentheid by te woon.

Die Kwagga-rugbyspan het aangedui dat hul die pretloop sal ondersteun en het ander sportspanne aangemoedig om teen hulle mee te ding. Vir hul getroue ondersteuners wil hulle sê: Kyk uit vir die groenspan.

Chantelle en Theunis nooi die breër gemeenskap hartlik uit om saam met hulle vir hoop te kom stap.

“Hierdie pretloop bied elkeen die geleentheid om nie net hul tekkies af te stof nie, maar om mense ook ’n blaaskans agter die kospotte te gee,” het Chantelle gesê. “Kom gesels met jou vriende, kom lag en kuier en bederf jouself. As ons saamstaan, saam lag, saam beleef en saam leef, dan hoop ons ook saam.”

Die wedloop begin om 17:00 en ’n deelnamefooi van R10 word gevra.

Vir meer inligting kan mense die Facebook-blad, Stefani van Schalkwyk/ Reach Up and Reach out besoek.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button