MunicipalNews

Inwoners raadop oor swak dienslewering

Inwoners van Modimolle en Mookgophong sit sedert die begin van die jaar met hul hande in die hare oor die gebrekkige dienslewering van die plaaslike munisipaliteit.

Daar is steeds probleme met die verwydering van vullis in Modimolle en Mookgophong se sentrale sakesektor, nywerheidsgebied, asook in die woonbuurte waar die vullis in sekere dele meer as twee weke laas verwyder is.

Die Pos het in Maart berig oor die gebrek aan vullisverwydering toe slegs een van die sewe vullisverwyderingvoertuie van die munisipaliteit se vloot in ’n werkende toestand was. Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het aan Die Pos gesê die munisipaliteit sukkel met verouderde vragmotors wat bydra tot die probleem. Sy het verder verduidelik dat nuwe voertuie benodig word vir ’n langtermynoplossing.

“Die munisipaliteit het in Oktober 2021 aansoek gedoen om ’n munisipale infrastruktuurtoelaag te bekom sodat drie nuwe vullis verwyderingvoertuie aangekoop kan word. Die uitslag van ons aansoek behoort eersdaags beskikbaar te wees,” het sy gesê.

Die talle openbare vakansiedae veroorsaak ook verdere vertragings in die normale werkskedule.

Intussen het inwoners, privaat instansies asook politieke partye ingespring om tydelike verligting te bring in sekere plekke waar die vullisopeenhoping handuit geruk het.

Voortslepende rioolprobleme is nog ’n kommerwekkende brandpunt wat inwoners warm onder die kraag het. Hannes Spies het aan Die Pos vertel dat die blokkasie van die rioolmangat by die waterreservoir en -druktoring in Njalastraat voor Paasnaweek aangemeld is. Die blokkasie is eers op Saterdag 23 April verwyder.

“Die mangat se deksel en steenwerk is lank gelede al beskadig deur die munisipale trekker wat gras sny. Twee inwoners van Bosveldsig het nou die steenwerk herstel en ’n nuwe staal deksel vir die gat gesny sodat vreemde voorwerpe nie in die gat val en blokkasies veroorsaak nie,” het hy gesê.

Volgens Ernest Davey is die verstopte rioolpyp in Booysenstraat op Maandag 18 April by die munisipaliteit aangemeld.

“Ek het elke dag opgevolg by die owerheid se inbelsentrum en is op Woensdag 20 April ingelig dat die rioolspan se voertuig glo buite werking is,” het hy gesê.

Dirk van der Merwe (snr.) het dieselfde antwoord by die inbelsentrum gekry op Vrydag 29 April nadat ’n rioolprobleem in Kerkstraat die week tevore aangemeld is. “Hoewel die munisipaliteit se span op die openbare vakansiedag (Maandag 1 Mei) op die toneel was, is daar steeds riool wat by die mangat uitloop,” het Van der Merwe gesê.

Die Pos het navrae gedoen by die munisipaliteit om te probeer vasstel hoeveel voertuie tot die rioolspan se beskikking is, maar het nie terugvoer ontvang nie.

Volgens Van Staden sou die afdelingshoof, Thabang Selemela, die voorgestelde rioolprojekplan op Dinsdag 19 April voorlê, maar hy het glo die vergadering uitgestel tot verdere kennisgewing.

Inwoners van Modimolle wat in die hoërliggende deel van die dorp naby Bosveldsig woon, sukkel byna daagliks met swak of geen water toevoer.

Volgens Hannes Spies loop die reservoir by die waterdruktoring in Njalastraat gereeld oor wat daartoe lei dat die watertoevoer na Bosveldsig en omliggende gebiede bedags afgesluit word.

“Die reservoir is veronderstel om ’n outomatiese sluitklep te hê wat keer dat dit oorloop, maar dit wil voorkom asof dit buite werking is,” het hy gesê. “Die hek na die waterpompstasie staan ook deurgaans oop wat die risiko van diefstal en vandalisme verhoog.”

Hy vervolg: “Die lekkende waterpyp in Swartwitpensstraat is twee weke gelede al aangemeld, maar honderde liters skoon drinkwater stroom steeds straataf terwyl pensioentrekkers in Bosveldsig bedags geen water het nie.”

Van Staden het aan Die Pos gesê dat sy en die raadslede uiters gefrustreerd is met die voortslepende diensleweringsprobleme. In ’n mediaverklaring wat deur die DA op Vrydag 22 April uitgereik is, word beweer dat onbevoegdheid en sabotasie aan die orde van die dag is.

“Die skokkende gebrek aan kommunikasie (vanaf munisipale amptenare) na raadslede en die gemeenskap is die grootste probleem.”

Luidens die verklaring was daar ’n beduidende afname in dienslewering tydens die dienstermyn van die vorige waarnemende munisipale bestuurder, Dakalo Sinthumule, wat skielik op Vrydag 1 April bedank het.

Intussen is Magda Berrenge, voorheen direkteur van openbare werke tydens ’n spesiale raadsvergadering op Vrydag 22 April as waarnemende munisipalebestuurder aangewys. Die poste vir ’n nuwe munisipale bestuurder, asook direkteur van strategiese beplanning, sal eersdaags geadverteer word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button