Local sportSport

My mening, jou mening en ons menings weer by debat gehoor

Die ATKV se skole-debatkompetisie kon die afgelope twee jaar nie plaasvind nie, maar gelukkig het debatspanne nou weer die geleentheid gekry om teen mekaar mee te ding.

Die kompetisie is op Donderdag 21 en Vrydag 22 April by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong aangebied. Agt skole uit Limpopo en Noordwes het meegeding. Uit hierdie skole was 23 spanne wat senior- en juniorsprekers ingesluit het.

Volgens Marita Louw, organiseerder van die kompetisie, was die standaard baie hoog en die beoordelaars was beïndruk met die leerders se vermoë om te debatteer.

Die gesoute beoordelaars was prof. Paul Schutte, ’n dosent aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus en Louis van der Merwe wat die nasionale skoledebatkompetisie georganiseer het voordat dat dit deur die ATKV oorgeneem is. Gustav von Bratt het al 15 ATKV-wenspanne afgerig en is betrokke by ’n vooraanstaande skool in Gauteng. Nog een van die beoordelaars, Léhandra Kotze, kom van die Vaaldriehoek en is ’n bedrewe afrigter wie se spanne gereeld in die finale ronde deelneem

Louw is die ATKV se Limpopo-organiseerder en Hanli de Kok organiseer die een vir Noordwes.

“Ons het vanjaar saamgesmelt omdat daar te veel spanne vanaf Rustenburg deelgeneem het en dus kon hulle nie in hulle eie streek alleen deelneem nie. Die ander skole in die provinsie het te min opponerende spanne gehad,” het Louw gesê.

Die skole wat deelgeneem het, was Hoërskool Louis Trichardt, Hoërskool Pietersburg, Hoërskool Ellisras, Hoërskool Hans Strijdom, Bergsig Akademie, Hoërskool Rustenburg, Hoërskool Klerksdorp en Potchefstroom Gimnasium. Die Hansies het twee spanne gehad wat deelgeneem het.

Die uitslae van die kompetisie is nog nie bekend nie en sal binnekort op die webblad van die ATKV beskikbaar wees.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button