Local newsNews

Huis in puin, maar waar is die brandweer?

Gemeenskapslede moes verlede week ’n inwoner van Thabazimbi te hulp snel nadat ’n brand in haar grasdakwoning op die Marakele-pad ontstaan het.

Die vraag op almal se lippe is: Waar was die brandweer?

Bure en inwoners van naburige plase moes in die vroeë oggendure van Donderdag 21 April inderhaas ingryp nadat die brandweerwa wat na die toneel ontbied is na bewering tegniese probleme ondervind het.

Ooggetuies wat op die toneel was het aan Die Pos gesê verskeie gemeenskapslede moes spook om die vuur in die huis met hul eie toerusting te blus.

Die brandweerwa wat op die toneel was se waterpomp was glo buite werking.

Owerhede en inwoners in Thabazimbi is boos en eis antwoorde van die Waterberg-distriksmunisipaliteit ná die verwoestende brand wat die woning van Tania Stone, ’n bekende inwoner van Thabazimbi, in puin gelaat het.

Stone is ’n verteenwoordiger van Thabazimbi Animal Rescue (TAR). Sy het verskeie diere by haar huis versorg voordat hulle verskuif kon word na die TAR-hokke in die dorp.

Stone het gesê sy is dankbaar dat sy en die diere ongedeerd uit die brand gekom het.

Die Thabazimbi-brandweer, onder bestuur van die Waterberg-distriksmunisipaliteit, het in April verlede jaar, ná maande se wag, ’n skenking van twee splinternuwe nooddiensvoertuie ontvang.

Dit is egter een van hierdie voertuie wat Donderdagoggend nie in staat was om die vernietigende brand te blus nie.

’n Woordvoerder van die Vryheidsfront-Plus in Thabazimbi het aan Die Pos gesê die party is van mening dat die brandskade aan die huis waarskynlik minder sou wees indien genoeg opgeleide personeel ontplooi was. In ’n verklaring wat kort ná die voorval uitgereik is, verduidelik raadslid Frik Erasmus (VF-Plus) dat verskeie ooggetuies se verslae bevestig het dat die personeel op die toneel nie bevoeg was om die toerusting te gebruik nie.

“Volgens gemeenskapslede het die brandweer na bewering laat opgedaag met slegs twee brandweerpersoneellede wat nie die brandweertoerusting doeltreffend kon gebruik nie,” het Erasmus in sy verklaring verduidelik.

Die VF-Plus eis ook dat daar opgetree moet word teen die brandweerpersoneel wat na bewering nie bevoeg was om die toerusting te kon gebruik nie.

Die Pos se verslaggewer het in reaksie na Dan Mokonyane, brandweerhoof van die distriksmunisipaliteit uitgereik vir kommentaar en tot die skokbesef gekom dat hy bykans ’n week ná die voorval plaasgevind het, steeds geen kennis daarvan dra nie.

Hoewel Mokonyane ontken het dat hy kennis dra van die voorval, het hy verduidelik dat hy twyfel dat die probleem tegnies van aard was.

“Sover my kennis strek, is die noodvoertuie in Thabazimbi splinternuut en was dit dus nog nie weer nodig om dit te diens nie,” het hy verduidelik. “Dit is die verantwoordelikheid van elke span om die nodige voorbereidings en toetse voor hul skofte te doen sodat hulle gereed is om op noodoproepe te reageer.”

Mokonyane het gesê dit is vir die distriksmunisipaliteit belangrik om hierdie soort foute reg te stel en te verhoed en daarom sal hulle deeglik ondersoek instel oor die situasie.

Related Articles

Back to top button