Local newsNews

‘Enorme verlies vir die dorp’

Die Phodi-Clinic in Bela-Bela, eens ’n spogprivaat hospitaal met ’n trotse mediese tradisie, het op Vrydag 1 April amptelik kennis gegee dat hul hospitaaldienste “tydelik beperk is weens interne verwikkelinge”.

Geen operasies kan ook tans by die hospitaal gedoen word nie.

’n Digte sluier is egter om die situasie by die hospitaal getrek en niemand wou presies sê wat die probleem is nie.

Selfs personeellede van die hospitaal het die afgelope week aan die koerant gevra om “uit te vind wat werklik daar aangaan”.

Intussen begin al hoe meer inwoners op sosiale media en by Die Pos kla dat hulle met noodsituasies by die hospitaal opdaag, net om weggewys te word na hospitale in die stad met vae redes waarom hulle nie plaaslik opgeneem kan word nie.

Elsa Benade, Phodi-Clinic-woordvoerder, het in reaksie aan Die Pos gesê die hospitaal is nie “heeltemal gesluit nie”.

Die Phodi-Clinic (voorheen St. Vincent’s-hospitaal) in Bela-Bela bied al vir die afgelope drie weke beperkte dienste aan. Interne redes is glo die oorsaak dat mediese sorg beperk word. Dié beeld staan voor die Katolieke kerkie by die hospitaal.

“Die Phodi-Clinic neem nie tans enige pasiënte by die hospitaal op nie. Die ongevalle-eenheid word egter as ’n algemene praktyk bedryf en is steeds 24-uur beskikbaar vir noodgevalle,” het sy gesê.

Daar sal volgens haar tydens hierdie tydperk algemene opknapwerk by die hospitaal gedoen word. Sy wou nie uitwei oor redes vir dié besluite of besonderhede bekend maak oor wanneer alle dienste weer aangebied sal word nie.

“Die hospitaalbestuur sal die publiek eersdaags in kennis stel van verdere verwikkelinge,” het sy gesê.

’n Plaaslike dokter, wat verkies om anoniem te bly, het die afgelope week by navraag aan Die Pos gesê praktyke in die omgewing het almal ’n kennisgewing ontvang dat geen operasies tot verdere kennisgewing by die hospitaal kan plaasvind nie.

Die dokter het gesê dié besluit is ’n “enorme verlies vir die dorp”.

“Dit is nie so eenvoudig vir ons as dokters op die platteland om by ’n ander hospitaal in die stad in te skakel nie. Ons moet nou ons pasiënte se versorging aan dokters wat aan ander hospitale verbonde is, oorlaat.”

Die dokter het gesê talle inwoners, veral bejaarde pasiënte, verkies steeds om deur hul huisdokters behandel te word.

Die Phodi-Clinic, voorheen bekend as die St. Vincent’s-hospitaal, is in die dertigerjare deur die Rooms Katolieke Kerk gestig om as ’n selfonderhoudende hospitaal in die omgewing te funksioneer.

Die hospitaal is vir meer as 50 jaar deur nonne van België bestuur. Die hospitaal was wyd bekend vir hul gehalte mediese versorging, teatergeriewe en blinkskoon kamers en gange.

Die kerk het sy aandele in die hospitaal in 2017 aan die Phodiso Management and Consulting-maatskappy verkoop en die laaste van die oorblywende nonne het daarna na hul vaderland teruggekeer.

Inwoners van die Waterberg het oor die jare fantastiese behandeling by dié hospitaal ontvang.

Talle inwoners vertel met nostalgie van hul babas wat daar gebore is, operasies wat suksesvol uitgevoer is en puik versorging wat hulle daar ontvang het.

Vakansiegangers het ook oor die jare met lof van die hospitaal gepraat wanneer hulle noodsituasies ervaar het tydens vakansies in die omgewing.

Die hospitaal was die afgelope twee jaar tydens die Covid 19-pandemie ’n toevlugsoord vir talle inwoners van die Waterberg.

Related Articles

Back to top button