MunicipalNews

Vuurwerke word verwag tydens Bela-Bela se begrotingsrede

Amptenare en raadslede van die Bela-Bela-munisipaliteit sal hulself moet staal vir erg gefrustreerde inwoners wanneer die jaarlikse munisipale begroting in die komende weke aan wyke voorgelê word.

Die munisipale begroting vir die komende boekjaar, wat op Vrydag 1 Julie in werking tree, is veronderstel om dienslewering in die dorp te verbeter.

Die dorp se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) is direk aan die begroting gekoppel omdat munisipale fondse vir instandhouding, kliëntediens en dienslewering in die nege wyke voorsiening moet maak. Die GOP-proses vereis dat elke wyk sy behoeftes aan die munisipaliteit voorlê.

Ongelukkig het die munisipaliteit in die verlede talle kere in gebreke gebly wanneer belastingbetalers swak dienslewering en die verval van infrastruktuur onder hul aandag bring.

Die munisipale raad het op Donderdag 31 Maart die begroting goedgekeur wat nou aan die inwoners voorgelê moet word.

Tinus Ras, DA-raadslid, het aan Die Pos gesê hy is teleurgesteld dat raadslede eers die dokumente op Woensdag 30 Maart ontvang het — minder as 24 uur voordat dit aan die raad voorgelê is vir goedkeuring. Hy meen geen raadslid kon die stel dokumente betyds bestudeer om ’n ingeligte besluit oor die inhoud daarvan te neem nie.

Die DA het nietemin teen die begro- ting gestem, maar met die meerderheid ANC-raadslede in sitting is dit goedgekeur.

“Daar wag aansienlike verhogings vir belastingbetalers. Daar is in verskeie afdelings onder- of oorbegroot en dit sal belastingbetalers nadelig raak.”

Die DA het die afgelope paar maande ’n lys saamgestel van elke straat en omgewing waar dringende herstelwerk gedoen moet word, het Ras gesê.

Hierdie lyste is reeds aan die munisipale bestuurder, asook die burgemeester, oorhandig. Die klagtes sluit ook die voortslepende kragprobleme van die Noodhulp- en Roodepoort-omgewing in.

“Daar is wel talle ander munisipaliteite in Limpopo wat swakker as Bela-Bela vaar, maar die DA vind dit ironies dat die munisipaliteit in die GOP-dokument aandui dat hulle hulself as ’n gesonde finansiële instelling ag terwyl die algehele beeld van die dorp ’n gans ander prentjie skets. Hulle kan hul staal vir groot vuurwerke tydens die openbare deelnameprosesse.”

Die eerste openbare deelnamevergadering het op Dinsdag 19 April in Wyk 2 begin.

Die Wyk 1-vergadering met munisipale amptenare vind om 17:00 op Maandag 25 April by Laerskool Warmbad plaas.

  • Die Pos het ’n afskrif van die GOP-dokumente in die hande gekry. Dit blyk uit dié inligting dat dieselfde probleme van die vorige boekjaar weer herhaal word en baie van die inligting nie opgedateer is nie. Navrae aan die munisipaliteit in verband met uitstaande probleme was teen druktyd nie beantwoord nie.

Related Articles

Back to top button