Local newsNews

‘Local is lekker’ by Kokanje-oord se karnaval

Die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle is oorgehaal om weer hul gewilde Local is Lekker-karnaval aan te bied.

Die karnaval kon die vorige twee jaar weens die Covid-19-inperkings nie plaasvind nie.

Die Kokanje-inwoners geniet hul aftrede in die Bosveld terdeë, maar daar is nie sprake van ledigheid nie. Met 26 klubs, komitees, musiek, handwerk en ander stokperdjies bly inwoners deurgaans besig.

Die jaarlikse karnaval is vir bykans 20 jaar op Erfenisdag (24 September) gehou, maar is in 2019 na April verskuif.

Vanjaar se karnaval beloof om groot pret vir oud en jonk in te hou met bykans 40 stalletjies, asook ’n veilige kinderspeelarea met toesighouers.

Die prettige karnaval-optog met gholfkarretjies sal die oggend gehou word met talle pryse en gelukkige trekkings.

Inwoners van Kokanje sal die meeste van die kosstalletjies self behartig en gaste sal kan smul aan pannekoek, vetkoek, kerrie-en-rys, boepensbroodjies en poedings.

Daar sal ook ’n verskeidenheid interessante stalletjies wees wat eetgoed, speelgoed, handwerk, houtwerk en kuns insluit.

Almal word hartlik genooi om te kom snuffel vir ’n winskoop by die wit olifanttafel.

Daar sal heerlike musiek tydens die karnaval wees met Gert van Tonder, Chris Coetzer en Annaretha Anza wat deur die loop van die dag saam met plaaslike sangers sal optree.

Die wyn- en biertuin sal ’n gesellige atmosfeer skep waar mense by tafels kan sit om die musiek en vermaak te geniet.

Hekke open om 08:00 en toegang is gratis.

Bel gerus vir Chris Sheperd by tel. 083 628 0508 vir enige navrae.


NB: Die “Local is Lekker” Karnaval wat op Saterdag 23 April by die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle sou plaasvind is ongelukkig uitgestel weens swaar reën wat vir die naweek voorspel word. Die nuwe datum is nog nie bekend gemaak nie. Kontak gerus vir Anina Pretorius by tel. 071 673 3704.

Related Articles

Back to top button