MunicipalNews

Onverwyderde vullis ontsier Mookgophong

Inwoners van Mookgophong was verlede week erg ontstoke toe hulle vullis nie verwyder is nie weens ’n tekort aan brandstof vir die vullisverwyderingstrok.

In sommige dele van Wyk 5 word vullis gewoonlik op Maandae verwyder en in ander dele van die woongebied op Donderdae, maar dit kon nie plaasvind nie weens die brandstofkrisis.

Aangesien inwoners nie vroegtydig gewaarsku is oor die stand van sake nie, het talle wel die vullissakke uitgesit waarna honde die sakke geskeur en die vullis uitgekrap het op soek na kos.

Die Ruk-Naboom-Reg-span met André van der Schyff aan die stuur het egter gou ’n plan gemaak en met ’n bakkie en sleepwa en hul eie werkers begin om die strate op te ruim.

“Dit was ’n spanpoging. Ruk-Naboom-Reg het saam met AfriForum probeer om ’n verskil in die dorp te maak,” het hy aan Die Pos gesê.

Die groot sleepwa wat gebruik is, is goedgunstiglik aan hulle geleen. Die bestuurspan het teen etenstyd op Donderdag 7 April besluit om onmiddellik geld beskikbaar te stel om nog dieselfde middag te begin met vullisverwydering.

Hulle het een vrag vullis in die sakegebied opgelaai en stortingsterrein toe geneem en Vrydag-oggend het hulle aan die werk gespring om soveel moontlik op te ruim en weg te ry.

“Ons kon nie alles oplaai nie en ons kon ook nie al die strate skoon kry nie, maar Thabo Mbekirylaan is skoon, asook die deel van 5de Straat tot by 6de Straat Ons het ses groot vragte vullis verwyder,” het Van der Schyff gesê.

Met die beperkte arbeid en slegs een voertuig kon hulle nie meer vermag nie. Die goeie nuus is egter dat meer inwoners self hul vullis verwyder het.

“Dankie aan Faan Burger wat in 8ste Straat met sy bakkie, sleepwa en sy eie werkers gehelp het om vullis op te laai en te verwyder. Aan ander inwoners wat ook gehelp het, dankie dat ons op julle kan staatmaak. Ons het ’n wonderlike gemeenskap en sal ons nie laat onderkry nie. Saam maak ons ’n reuseverskil,” het hy trots gesê.

Die res van die vullis is eers teen Sondag 10 April deur die munisipaliteit verwyder.

Related Articles

Back to top button