Local newsNews

‘Skurwe’ besoeker in tuiskantoor

Adri Pretorius het haarself boeglam geskrik toe ’n yslike likkewaan op Dinsdag 5 April in haar tuiskantoor in Modimolle besoek afgelê het.

Pretorius het aan Die Pos vertel sy was die oggend dorp toe en het omstreeks 12:30 teruggekeer na hul woning in Paul Krugerstraat.

Haar man, Gustav Pretorius, bedryf ook sy boekhoufirma van die huis af en het destyds ’n gedeelte van die motorhuis in ’n kantoor vir haar omskep.

Sy vertel: “Ek het die gewoonte om altyd eerste my skoene uit te skop sodra ek tuis kom. Ek is dus kaalvoet na my kantoor toe. Die volgende oomblik het ek iets skerp en krapperig bo-oor my voete voel beweeg. Dis toe dat ek die yslike likkewaan in my kantoor gewaar het en kliphard uitgeroep het vir hulp.”

Die likkewaan het intussen agter plastiekkratte, wat teen die muur opgestapel is, gaan skuil. ’n Man wat ’n paar huise verder in die straat woon het dadelik kom help totdat hulle iemand kon opspoor om die onwelkome besoeker te verwyder.

Pretorius vertel dat sy die likkewaan Frederik gedoop het.

“Ons vermoed die likkewaan is deur ons (sewe) honde verjaag waarna dit in die kantoor wou skuiling soek,” het sy gesê.

Daar is volgens haar heelwat koggelmanders in die omgewing aangesien Paul Krugerstraat naby die oop veld by die Braksloot geleë is.

Die hulp van Theunis Victor, ’n plaalike slangkenner en -vanger, is ingeroep om die dierasie te verwyder.

Victor vertel dat hy net voor 13:00 daar was om die likkewaan te vang.

“Hierdie kliplikkewaan (ook genoem veldlikkewaan) van ongeveer 1 m se stert is iewers beseer, want die punt was af,” het hy gesê.

Hoewel likkewane nie lewensgevaarlik is nie, moet mense nogtans versigtig vir hulle wees, het hy gewaarsku.

Die meeste mense weet dat ’n likkewaanstert ’n baie seer sweephou kan toedien, terwyl die skerp naels die vel kan stukkend krap. Dit is egter die byt wat veel gevaarliker is.

’n Likkewaan het kragtige kake wat baie seer en stewig vasbyt en die speeksel bevat boonop baie bakterieë. Indien ’n mens of hond deur ’n likkewaan gebyt word, moet die wond dadelik met antiseptiese middel ontsmet word en antibiotiese behandeling moet sterk oorweeg word.

Volgens bronne bestaan ’n likkewaan se dieet hoofsaaklik uit insekte, akkedisse, paddas, klein voëls, kuikens, rotte en eiers.

Die lang gesplete tong is ’n sensoriese orgaan waarmee prooi geruik word. Wyfies lê in die vroeë somer hul eiers wat na ongeveer vier maande uitbroei.

Gelukkig is likkewane menssku en sal die dier eerder voorgee dat dit dood is of vinnig wegbeweeg wanneer hulle mense gewaar.

Bel gerus vir Theunis Victor by tel. 082 823 6910 of vir LD Pienaar by tel. 072 475 6414 om likkewane te verwyder.

Let daarop dat ’n minimale uitroepkoste gevra word wat aangewend word vir brandstof uitgawes.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button