Local newsNews

Salie en Martie se 60 jaar van genade

Jan van Riebeeck is nie die enigste aanspraakmaker op die datum 6 April (1652) nie — allermins!

Op 6 April 1962 het die jong tale-onderwyser, Salie van der Wal (boorling van Ohrigstad/Lydenburg) en voormalige student (drama, toneel en tale) aan die Heidelbergse Onderwyskollege die aanvallige Martie Cronjé (gebore en getoë in Thabazimbi/Rustenburg se wêreld) sy bruid gemaak.

Hy was op daardie stadium onderwyser aan Afrikaans Hoër Germiston (en vroeër van Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi) en sy ’n afgestudeerde aan die Onderwyskollege Pretoria en toe jong gr. 2-onderwyser aan Laerskool Thabazimbi.

Die diens is deur ds. Lourens de Jager van die NG Kerk gelei en die spoggerige onthaal is in die Yskor-ontspanningsaal gehou.

Salie en Martie van der Wal van Mookgophong het op 6 April hul 60ste huweliksherdenking gevier.

Sedertdien het baie water in die see geloop, sodanig, dat ’n dankbare familie- en vriendekring deesdae in verwondering na hierdie paartjie, wat al vir 60 jaar rotsvas by mekaar staan, kan opkyk.

Salie en Martie het veral diep spore in die onderwys getrap. Dit het by die Laer- en Hoërskool Thabazimbi begin en toe na Afrikaans Hoër Germiston en Laerskool Kensington uitgebrei.

Die gesin het in 1964 uitgebrei en Martie het verkies om daarna net deeltydse sangklasse by die skole in hul omgewing te hanteer.

Die egpaar het tientalle suksesvolle operettes op die planke gebring met Salie as regisseur en Martie as begeleier op die klavier.

Hulle onderwysloopbaan van etlike jare kronkel voorspoedig en geseënd deur die volgende skole: Hoërskole Hercules en Elandspoort, Hoërskool Balfour (visehoof), Hoërskool Balfour (visehoof), Hoërskool Hans Strijdom (adjunkhoof), Hoërskool Christiana (hoof), Hoërskool Monument (hoof), Alberton-streekkantoor (superintendent van onderwys) en weer terug Bosveld toe vir hul aftrede.

Hul aftrede was egter van korte duur, want Salie is in 1993 genader om die pos van hoof by die destydse CVO-skool in Mokopane te beklee.

Hy het ook klas gegee in Afrikaans, Duits en Noord-Sotho. Sy nalatenskap sluit ook die skryf van die skool se skoollied in.

Martie het vir ’n verdere sewe jaar vir die gr. 2-klas skool gehou voordat sy ook uitgespan het.

Die egpaar het nog altyd ’n fantastiese slag met jongmense gehad en voormalige leerders kom maak steeds ’n draai by hulle waar hulle deesdae in ’n woonstel in Ons Tuiste Rusoord in Mookgophong woon.

Die egpaar se uitgebreide gesin het ’n groot saamkuier die naweek van 8-10 April op Absentia buite Mookgophong gehou.

Met die uitsondering van een kleinseun wat in Amerika boer, was almal daar.

Die egpaar se vier kinders is Santie Gildenhuys (Modimolle), Annarien Jacobs (Bela-Bela), Riaan van der Wal (Mookgophong) en Martinette Müller (Tzaneen).

Die egpaar en familie skryf die afgelope 60 jaar en langer se seën en voorspoed uitsluitlik aan die Here se oneindige genade toe.

Related Articles

Back to top button