Local sportSport

Aktivis vat pad vir ’n goeie (groen) doel

Abraham van Vuuren (59), beter bekend as Enzo, is ’n groen aktivis met ’n hart vir eko-toerisme.

Talle inwoners van Modimolle het dié man met sy heldergroen T-hemp en groen bergfiets sedert Vrydag 1 April in die dorp se strate opgemerk. Dit is deel van sy huidige bewusmakingsveldtog in die Waterberg-biosfeer.

Dié boorling van Pretoria, wat tans Magaliesburg sy tuiste noem, het al meer as 6 000 km landwyd op sy fiets afgelê om bewusmaking vir omgewingskwessies te bevorder.

Van Vuuren het in 2011 begin met sy “6 000 km Cycle Challenge” gemik daarop om die Magaliesberg-biosfeer te bemark.

Hoewel sy fietsryveldtog tydens die Covid-19-grendeltyd gestaak is, kon hy weer vanjaar die speke in die Waterberg-biosfeer laat sing. Van Vuuren het aan Die Pos vertel:

“As stigter van die organisasie Heal the world 4 change poog ek om eko-toerisme en omgewingsbewaring onder mense se aandag te bring. Ons was in Februarie vanjaar in Polokwane om ons projekte met die onderskeie owerhede te bespreek. Die #respekflag-veldtog is ’n opwindende projek wat ons aan die provinsiale departement van onderwys voorgelê het. Die mikpunt is om leerders in die hele provinsie te betrek om spekboomplantjies in potjies te plant,” het hy gesê.

Hierdie spekboomplantjies sal deel vorm van ’n enorme Suid-Afrikaanse vlag wat in Mokopane op ’n perseel van een hektaar saamgestel sal word.

Volgens Van Vuuren sal die samestelling van die vlag werksgeleenthede skep en eko-toerisme bevorder.

“Daar word beplan om sonpanele op te rig in die swart gedeelte van die vlag en groente en blomme in die rooi en blou gedeeltes te plant. Die spekbome sal in die groot groen gedeelte van die vlag geplant word,” het hy gesê.

Volgens Van Vuuren is hul langtermynmikpunt om vyf sulke enorme vlae in vyf provinsies te bou waar die spekbome sal aard — in Noordwes, Limpopo, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap.

Die spekboom is volgens bronne ’n geharde, eg Suid-Afrikaanse plant wat koolstofdioksied in die atmosfeer verwyder en suurstof produseer. Die blare bevat baie vog en is eetbaar met ’n effense suur smaak. Omdat die plant gehard is teen droogte en ryp, groei dit goed in die veld waar swartrenosters, olifante en koedoes dit graag vreet.

Sekere inheemse volke gebruik die blare as kuur vir seerkeel, infeksies in die mond en selfs vir die behandeling van blase op die vel. Die vogtige blare kan dors les en sonsteek voorkom.

Van Vuuren het ’n passie vir die natuur en vir jongmense.

“Ek wil graag die jeug bemagtig met die nodige inligting om self werk te skep in die eko-toerisme bedryf.”

Inwoners kan vanaf Dinsdag 19 April op die uitkyk wees vir die groen bergfiets in die Bela-Bela-omgewing.

Belangstellendes kan gerus sy vordering op die Facebook-blad volg by Respekflag(.)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button