NewsSchools

Ligte, kamera en aksie vir jong verhoogster

Hollywood wink vir Frans Kalp, ’n jong Thabazimbi-seun wat onlangs gekies is om deel te wees van die Mentor My-reeks vir jong aspirant film- en verhoogsterre.

Dié hoofseun van Laerskool Koedoeskop vertel dat hy van kleins af ’n groot liefde vir die kunste gehad het. Dit was dus nie vreemd dat hy en sy ouers die geleentheid met albei hande aangegryp het toe hulle die advertensie op sosiale media gesien het nie.

Die Mentor My-reeks is ’n dramaslypskool waar ’n handjievol uitgesoekte jongmense van regoor Suid-Afrika die geleentheid kry om by van ons land se gewildste akteurs Jeanie Swiegelaar van Binnelanders-faam, Izak Davel en Desiré Gardner die fyner kunsies leer oor wat dit verg om ’n filmster te word.

Volgens sy ma, Anneke van Dyk, het Frans op ’n vroeë ouderdom reeds belangstelling in die kunste getoon en het hy ’n uitsonderlike talent gehad vir stories vertel.

“Frans se liefde vir stories vertel en opvoer kom al van kleins af,” vertel sy.

“Hy het op driejarige ouderdom die stories wat ons vir hom gelees het, begin oorvertel en van daar af het sy liefde net gegroei.”

Hy het ook tydens die skoolvakansie verhoogopnames gedoen vir ABS-produksies se Speel Toneel en is gekies om binnekort in ’n kortfilm (wat nasionaal op Via se kanaal 147) uitgesaai word, te speel.

Die opnames vir dié kortfilm begin oor vier maande.

“Ek is baie opgewonde om in ’n kortfilm te speel,” het Frans aan Die Pos gesê. “Ons weet nog nie in watter genre die kortfilm sal wees nie, maar ek is gereed vir enigiets.”

Of dit nou met ’n redenaarsflitskaart in die hand, agter die klavier, op ’n verhoog of voor ’n kamera is, een ding is vir seker: Hou dié talentvolle seun dop!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button