MunicipalNews

Munisipaliteit bespreek voorlopige begroting

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het lede van die publiek genooi om op Maandag 4 April deel te neem aan die bespreking van die voorlopige begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP) vir die 2022/2023 boekjaar.

Die voorlopige begroting is reeds die vorige week op Donderdag 31 Maart aan die munisipaleraad tydens hul maandelikse vergadering voorgehou.

Hoewel die vergadering bykans 45 minute laat begin het, het die handjievol mense geduldig gewag op die burgemeester en waarnemende munisipalebestuurder se koms.

Marlene van Staden, burgemeester, het die voorgestelde projekte van 2022/2023 bespreek. Sy het ook verduidelik dat die plaaslike owerheid ’n skedule 6B-munisipaliteit is wat beteken geen geld word direk aan die munisipaliteit betaal nie.

Die provinsiale departemente bestuur alles en kontrakteurs word direk per faktuur betaal.

Die eerste projek op die agenda was die opgradering van die rioolafvoer in die omgewing van Von Willichstraat in Modimolle se nywerheidsgebied. Daar is R5 miljoen in die begroting daarvoor geoormerk.

Die tweede rioolprojek behels die opgradering van die rioolpyplyne in Lilian Ngoy- (Stasie), Paul Kruger-, Van Riebeeck- en Joe Slovostraat in Modimolle. Hierdie laagliggende gedeelte van die dorp, langs die rivierbedding, ervaar sedert 2018 rioolprobleme omdat die pyplyn verouderd is en die deursnee van die pype baie nou is.

Volgens Van Staden sal die opgradering vanaf die rioolaanleg in Modimolle gedoen word waarna dit na die betrokke strate sal uitbrei.

Daar is R17 miljoen in die begroting vir hierdie rioolprojek, wat oor twee jaar sal strek, aangedui. Die voorgestelde begroting noem ook ’n aantal rioolprojekte in Mookgophong, waaronder die opknapping van die rioolpompstasie (langs die R101-deurpad) en die opgradering van die rioolpyplyn in Uitbreiding 5 en 6 van die township.

Die begroting maak voorsiening vir die opknapping van Donkerpoortdam se watersuiweringsaanleg, asook die Nyl-varswaterpompstasie en reservoir in Mookgophong.

Volgens Van Staden is daar ’n bykomende R5 miljoen opsy gesit vir die aanbring van bystandkragopwekkers by varswater- en rioolaanlegte.

Die herstel en vervanging van watermeters is ’n projek wat oor vier jaar sal strek met ’n beraamde begroting van R10 miljoen per jaar. Volgens Van Staden het die munisipale raad ’n versoek gerig om voortaan slegs voorafbetaalde watermeters te installeer.

“Die munisipaliteit verloor groot bedrae inkomste weens die gebrek aan werkende watermeters,” het sy gesê.

Van Staden het gesê ’n afvaardiging van Denemarke het onlangs 46 bestaande boorgate in Mookgophong, Vaalwater, Roedtan en Tsusang-omgewing getoets. Die doel van hierdie samewerkingsooreenkoms is om die bestaande boorgate op te knap en meer doeltreffend te benut.

Die munisipaliteit sal ook veiligheidsmaatreëls daarstel sodat pompe en kragopwekkers nie beskadig of gesteel word nie.

Die plaaslike owerheid het ’n groot munisipale infrastruktuurtoelae van R28,6 miljoen ontvang om die paaie in Phagameng se Uitbreiding 10 (deel van Wyk 13) met plaveiselstene te vervang, wat die ringpad insluit.

Die geïntegreerde nasionale elektrifiseringsprogram (INEP) het ook R40 miljoen bewillig waarvan R27,2 miljoen geoormerk is om die nuwe substasie, wat reeds middel 2020 in Uitbreiding 10 van Phagameng in Modimolle gebou is, te voltooi. Elektrisiteit sal ook na talle huishoudings in die Leeuwdrift-kleinhoewes, Uitbreiding 9 in Phomolong, asook Uitbreiding 12 in Phagameng, aangelê word.

James van Zyl van AfriForum Modimolle het dringende terugvoer gevra rakende die vordering van die rehabilitasie van die bestaande vullisstortingsterrein in Modimolle en navraag gedoen oor wanneer die nuwe stortingsterrein aan die onderpunt van Collinstraat in die Drie Hekke-omgewing, in gebruik geneem sal word.

“Volgens die munisipaliteit se oorspronklike projekplan sou die nuwe stortingsterrein reeds in Desember 2019 geopen word, maar twee jaar later is dit nog steeds nie ’n werklikheid nie,” het hy gesê.

Lucas Bornman van AfriForum Mookgophong het ook navraag gedoen oor die vullisstortingsterrein in Mookgophong wat glo eers in die munisipaliteit se 2023/24-projekplan ingesluit word.

“Die vullisstortingsterrein is reeds oorvol en dit lei nou tot onwettige rommelstorting in enige oop veld. Ons kan nie nog langer wag om hierdie probleem aan te spreek nie,” het hy gesê.

Hierop het die burgemeester gevra dat dit amptelik genotuleer moet word vir bespreking in die volgende raadsvergadering. Sy het voorgestel dat geld reeds in 2022/23 aangewend word om so gou moontlik verligting te bring.

Dr. Syd Catton van Waterberg Toerisme en Waterberg Development Initiative het weer die belangrikheid van toerisme benadruk.

“Toeriste wil nie tyd en geld in vuil dorpe bestee nie. Die swak toestand van die paaie is ook ’n probleem. Ons omgewing maak staat op toerisme en landbou vir ons ekonomiese oorlewing,” het hy gesê.

Hoewel talle projekte in die huidige 2021/2022-boekjaar nog steeds voortgaan, moet dit ingevolge die munisipale wetgewing teen Junie vanjaar voltooi wees.

Die finale begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP) moet einde Mei aan die raad voorgelê word vir goedkeuring om vanaf Vrydag 1 Julie 2022 in werking te tree.

Related Articles

Back to top button