Local newsNews

Kranige fotograwe het hul vingers op die knoppie

Die Bosveld-fotografieklub is bykans 20 jaar gelede in 2003 in Modimolle gestig deur ’n groep kranige fotograwe wat kunsfotografie wou bevorder.

Daar is voor die 2020-grendeltyd gereeld fotografie-uitstappies en werkwinkels gehou sodat klublede die geleentheid kon kry om hul omgewing beter te leer ken, asook om by meer ervare fotograwe kers op te steek.

Die werkwinkels het klublede aan nuwe tegnologiese ontwikkelings in digitale fotografie, sagteware, spesiale effekte en vele meer blootgestel.

Volgens Antoinette Hyman, klubvoorsitter, behoort die uitstappies en werkwinkels weer binnekort hervat word. Die klub kom elke tweede Dinsdagaand van die maand bymekaar.

Hierdie byeenkomste is die afgelope twee jaar gedurende die grendeltyd met groot sukses aanlyn aangebied.

Klublede was verheug om mekaar weer van aangesig tot aangesig te sien tydens die byeenkoms wat op Dinsdag 8 Maart by die Koro Creek-gholflandgoed se klubhuis gehou is.

Die maandelikse kompetisiewenners in elke kategorie is ook aangewys. Daar word elke maand ’n gasbeoordelaar genooi wat die verrigtinge met ’n kort aanbieding open. Daarna word die foto-inskrywings per kategorie op ’n grootskerm geprojekteer waarop die beoordelaar kommentaar lewer en punte aan elke foto toeken.

Die onderskeie kategorieё sluit in portretstudies, stillewe, natuurlewe, wildediere of voёls, landskappe, swart en wit/ sepia, vrye kleur, sport, makrofotografie en fotojoernalistiek.

Daar word elke maand ’n ander vasgestelde tema gekies waaraan fotograwe kan deelneem.

Van die temas sluit in weerkaatsings, fokus op lyne en kurwes, optiese illusies, ongewone of aksiefotos.

Die kalender vir die res van die jaar se byeenkomste is reeds vasgestel met aanlyn- en gewone byeenkomste.

Die aanlynbyeenkomste word op die volgende Dinsdae om 18:30 gehou: 12 April, 10 Mei, 12 Julie, 16 Augustus, 11 Oktober en 8 November. Die gewone byeenkomste vind plaas op 14 Junie en 13 September en sal weer by Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle gehou word.

Merk gerus Saterdag 3 Desember op die kalender vir die glansryke jaareindgeleentheid waar die beste foto’s van die jaar aangewys word.

Belangstellendes wat in die Waterberg-omgewing woon, kan gerus by die klub aansluit om hul fotografievaardighede uit te brei en ander amateurfotograwe te ontmoet.

Bel vir Dorette Nel, sekretaris, by tel. 082 857 4797 of vir Flick Lotter by tel. 084 588 5065 of stuur ’n e-pos na bfotografieklub@gmail.com(.)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button