LettersOpinion

Brief: Departement se rekening vir mediese eise beloop R14 miljard

Dit is ’n aanduiding van die swak toestand waarin die gesondheidstelsel in Limpopo verkeer.

Marcelle Maritz, Vryheidsfront-Plus (VF Plus)-LPW en provinsiale leier: Limpopo, skryf:

Eise weens beweerde mediese nalatigheid in Limpopo se departement van gesondheid sedert 2015 beloop R14 miljard terwyl die departement se totale begroting vir die 2022/23-boekjaar R22,7 miljard beloop.

Dit is ’n aanduiding van die swak toestand waarin die gesondheidstelsel in Limpopo verkeer. Dié kwessie is reeds onder die vergrootglas van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) geplaas.

Die agteruitgang in gesondheidsorg in dié provinsie laat honderdduisende van die mees kwesbare mense in die provinsie, wat aangewese is op goeie openbare gesondheidsorg, in die steek.

Die VF-Plus waarsku die gesondheidsdepartement en sy huidige en vorige LUR’e al jare oor personeel se onbevoegdheid, swak houding en gebrek aan vaardighede.

Om die situasie te vererger is daar ’n tekort aan goeie dokters, toerusting is verouderd en die ambulansdienste laat veel te wense oor. In baie gevalle is daar geen dienste nie.

Die VF-Plus is daarom van mening dat ’n lopende ondersoek van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) na onder meer die kontrakte vir die verwydering, behandeling, vervoer, versameling en wegdoening van gevaarlike mediese afval uitgebrei moet word na die hele gesondheidsdepartement.

Die tyd het aangebreek om Limpopo se gesondheidsdepartement van bo tot onder skoon te maak en om bevoegde amptenare aan te stel wat dit ten doel het om die beste gesondheidsorg moontlik aan inwoners te verskaf.

Die VF-Plus veg die afgelope 12 jaar teen die verval in openbare gesondheidsorg in Limpopo en sal aanhou druk uitoefen totdat alle korrupsie en wanbestuur in die departement uitgeroei is.

Related Articles

Back to top button