Local sportSport

Thabazimbi-langasems kry die drafskoene reg

Die landloopatlete van Thabazimbi is besig om hul spiere te strek vir die 2022 Lima-kampioenskap wat op Saterdag 9 April in Thabazimbi aangebied word.

Die Thabazimbi-landloopklub speel vanjaar gasheer vir atlete van regoor die distrik tydens een van Limpopo se grootste byeenkomste op die landloopkalender.

Liezel Blignaut, afrigter van die klub, het aan Die Pos gesê sy is baie opgewonde om te sien wat haar span en die ander deelnemers sal vermag wanneer hulle die pad by Tarentaalpan aandurf.

“Die atlete het die jaar goed afgeskop en baie hard gewerk,” het sy vertel. “Ons het werklik ’n sterk groep atlete.”

Die Thabazimbi-landloopklub berei sedert die begin van die jaar vir die kompetisie voor. Die veteraan-atlete van die klub kry ook hul drafskoene gereed vir dié wedloop.

Die topatlete van die naweek se kampioenskap sal in aanmerking kom om later vanjaar aan die nasionale kampioenskap deel te neem. Besoekers is welkom.

Die eerste atlete spring om 09:00 weg.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button