AdvertorialNewsSponsored

Tik-tok-terapie vir Thaba-vroue

Dit kan baie terapeuties wees om iets met jou hande te maak.

Baie mense het sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie sowat twee jaar gelede onder uiterste druk verkeer — finansieel, emosioneel of geestelik.

Vir Lynette Kemp, eienaar van Memory Lane in Thabazimbi is kunsvlyt gedurende swaar tye ’n toevlug.

Die kunswerkwinkels wat sy aanbied, is ook vir talle inwoners in die dorp ’n welkome wegbreek van hul daaglikse stresvolle lewens.

Nicolene du Plessis spog met haar voltooide horlosie wat ’n spesiale plek in haar huis gaan kry.

Die winkel in die hartjie van Thabazimbi het met die jare bekend geword as die plek waar mense doen-dit-self-benodigdhede kan koop. Tog is dit veel meer as ’n kunswinkel. Dit is ook ’n tuiste en ’n toevlug vir diegene wat ’n kreatiewe sy het.

’n Groep vriendinne het die afgelope week daar bymekaar gekom om hul eie kreatiwiteit op die proef te stel en handgemaakte horlosies te maak.

In die proses het hulle vir ’n paar uur ’n welverdiende blaaskans van die lewe se gejaagdheid geneem. “Almal kan kreatief wees,” het Kemp gesê.

“Daar is ongelooflike waarde aan kunswerkwinkels,” vertel sy. “Wanneer ’n mens iets met jou hande maak, besef jy dikwels dat jy tot baie meer in staat is as wat jy besef het. Dit gee ’n mens iets om op trots te wees.”

Kemp moedig mense aan om hul eie kreatiwiteit te ontwikkel. Die aard van die projek is nie belangrik nie, maar dit is wel belangrik om dit te voltooi.

“Hierdie soort klasse leer ’n mens buite die boks dink en skep geleenthede vir ’n bietjie eie-tyd waar jy op jouself kan fokus. Dit is ontspannend, terapeuties en dit gee ’n mens dikwels ’n nuwe uitkyk op die lewe en daarom moedig ek graag mense aan om meer kreatief te raak.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button