CrimeNews

Talle honde in Bela-Bela vergiftig

Boosdoeners was die afgelope week baie bedrywig in die Noodhulp-omgewing buite Bela-Bela waar sewe honde volgens die polisie vergiftig is.

Volgens lt.kol. Annemarie Smith, speurtakhoof van die Bela-Bela-polisie, het die misdadigers tussen Dinsdag 15 Maart en Woensdag 16 Maart vier eiendomme binne ’n radius van 4 km van mekaar geteiken.

“Daar is op een aand ’n voertuigdiefstal aangemeld, asook ’n klag van diefstal vanuit ’n voertuig, huisbraak en opsetlike saakbeskadiging.”

Patrollies deur die betrokke buurtwagte is intussen opgeskerp en inwoners is gemaan om die nodige stappe te neem om hulself en hul eiendom te beveilig.

Paul Mathews van die gemeenskappolisiëringsforum (GPF) het die volgende inligting aan Die Pos uitgereik om onder inwoners se aandag te bring:

  • Wees waaksaam en raak bewus van wat daagliks op jou perseel en in jou omgewing plaasvind.
  • Moenie voorspelbaar optree nie. Wysig jou roetine gereeld, want boosdoeners hou mense se bewegings dop.
  • Reageer met groot omsigtigheid wanneer ’n hond blaf of ’n alarm (heinings inkluis) geaktiveer word. Luister ook na buitengewone klanke soos ’n voertuigdeur wat toeslaan of iets wat val.
  • Doen gereeld inspeksie van heinings en maak seker dat hekke nie maklik oopgedwing kan word nie. Maak bebosde areas waar verdagtes kan skuil skoon.
  • Implemente en masjiene moet toegesluit of vasgesluit word. Dit is soms goed om dit op ’n plek te parkeer waar die buurman dit ook kan sien. Ontkoppel die batterye van die voertuie wat buite staan sodat dit nie vir boosdoeners maklik is om dit net aan te skakel en weg te ry nie.
  • Hou rekord van veegetalle. Sorg dat vee duidelik gebrandmerk is en dat die diere in ’n ondeurdringbare kraal gehuisves word. Wees bedag op grensdrade waar vee daagliks wei.
  • Sorg dat wonings en store sterk buiteligte het. Neem kennis daarvan dat windskerms (soos rye bome) by wonings vir boosdoeners skuiling kan bied. Skaf bykomende kragbronne aan wat nie deur verdagtes beskadig kan word nie.
  • Installeer veiligheidshekke in die woonhuis.
  • Moenie saans alleen uitgaan wanneer buitengewone klanke gehoor word nie. Skakel die GPF of die polisie om saam ondersoek in te stel.
  • Installeer kameras wat beweging optel en huisbewoners betyds kan waarsku as daar indringers in die omgewing is.
  • Honde is steeds ’n aanwins vir veiligheid, maar is baie kwesbaar.
  • Behou ’n goeie werkverhouding met arbeiders. Doen navraag by die polisie of hulle ’n kriminele rekord het voordat hulle aangestel word.
  • Neem kennis en hou rekord van vreemde voertuie en groepe in die buurt. Gee hierdie inligting aan die GPF.
  • Moenie nalatig wees met die hantering van afstandbeheerkontroles of sleutels nie. Vermy die moontlikheid dat dit gedupliseer word.
  • Gebruik slegs ’n vuurwapen wanneer jou lewe in gevaar is. Skerp vaardigheid om ’n vuurwapen te hanteer gereeld op deur by plaaslike skietbane te gaan teiken skiet. Maak seker dat vuurwapenlisensies en bevoegdheidsertifikate op datum is.
  • Stel ’n gebeurlikheidsplan op wat die gesin in tyd van nood kan volg. Waarheen moet almal hardloop of wegkruip of vanwaar kan weerstand op ’n veilige basis gebied word?
  • Moenie klein misdrywe afmaak nie. Meld dit by die polisie aan en werk te alle tye saam met die polisie.

Related Articles

Back to top button