Local sportSport

Koedoe-atlete maak skoonskip by Kwaggasrus

Die rugby- en netbalspelers van Laerskool Koedoeskop het hul skoolvakansie op ’n hoë noot begin ná ’n suksesvolle toernooi wat by Kwaggasrus-wildsplaas naby Beestekraal aangebied is.

Dié leerders en hul afrigters het van Maandag 14 tot Donderdag 17 Maart kragte gemeet teen ander skole wat ook deel was van dié toernooi.

Die spelers van Koedoeskop het hul baie goed van hul taak gekwyt en die groter skole op hul neuse laat kyk tydens die weeklange toernooi.

Elzet de Beer, afrigter van die eerste netbalspan, het gesê sy en die Koedoeskop-meisies het hul gate uit geniet tydens die toer en dat sy baie trots is op haar span.

Die eerstespan rugbyspelers van Laerskool Koe-
doeskop word tydens die rugbytoernooi te Kwaggasrus-wildsplaas deur hul afrigter, Gideon van Dyk, aangemoedig. Koedoeskop het al hul wedstryde gewen.

“Die meisies het baie hard geoefen, maar daar was ook tyd vir baie prettige aktiwiteite,” het sy gesê.

“Ons is baie trots daarop dat ons die toernooi op ’n hoë noot kon afsluit. Een van ons wedstryde kon nie plaasvind nie weens reënweer, maar ons meisies het hul ander drie wedstryde almal gewen.”

Die rugbymanne het ook gewys dat hulle gedugte teenstanders is. Hulle het al die wedstryde waaraan hulle deelgeneem het, gewen.

Gideon van Dyk, afrigter, het op sy beurt sy span geloof vir hul goeie dissipline en harde spel.

“Die eerste rugbyspan het al hul wedstryde by Laerskool Sanddrif gespeel en dit kon nie beter gegaan het nie. Ons het die Maandag teen Laerskool Brits gespeel en gewen. Ons het die volgende dag kragte gemeet teen Laerskool Ellisras en die wedstryd ook gewen,” het hy trots vertel.

Die spelers van Laerskool Koedoeskop kon die toernooi afsluit met ’n sege vir die eerste- en tweede rugbyspanne.

“Ons sê baie dankie aan Kwaggasrus- wildsplaas vir hul gasvryheid en netjiese oord. Die leerders van Koedoeskop het lekker gekuier. Die personeel van Laerskool Sanddrif, Lizette Swart en Ashley Carr, het die besoekers met ope arms ontvang en hul sportgeriewe beskikbaar gestel. Dit was werklik ’n fantastiese toer met goeie spangees, goeie sport en heerlike samesyn,” het Van Dyk afgesluit.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button