Local newsNews

Bekende sakeman en passasier in hospitaal ná vliegongeluk

Richard Nicholson, bekende Waterberger en eienaar van Benchmark Aviation-vliegskool, en sy vriendin, Jana van Zyl, is albei met ernstige brandwonde in ’n Albertonse hospitaal opgeneem nadat die ligte vliegtuig waarin hulle op reis was, neergestort en aan die brand geslaan het.

Die ongeluk het op Saterdag 12 Maart in die Tolwe-omgewing, naby die Botswana-grens, plaasgevind toe die ligte vliegtuig vermoedelik enjinprobleme ondervind het.

Nicholson is ’n ervare vlieënier en word in lugvaartkringe as uiters bekwaam beskryf. Hy het die vliegskool, wat in 2010 in Modimolle gestig is, in Oktober 2020 na die vliegveld in Bela-Bela verskuif weens voortslepende veiligheidsprobleme by die Modimolle-vliegveld.

Nicholson, wat erge brandwonde aan sy arms, bolyf en bene opgedoen het, kon daarin slaag om Van Zyl uit die brandende wrak te red waarna hy by ’n nabygeleë plaashuis gaan hulp soek het.

Nicholson se seun, Richard jnr., wat ook ’n ervare vlieënier is, kon dadelik met ’n groter vliegtuig vanaf Bela-Bela vertrek om sy pa en sy vriendin per vliegtuig na die Randse-lughawe in Germiston te neem waar nooddienspersoneel hulle ingewag het. Dié besluit is geneem omdat selfoonopvangs in die Tolwe-omgewing beperk is en die familie gedink het dit sal vinniger wees as hy sy pa-hulle self gaan haal.

Richard Nicholson en sy seun, Richard jnr., het baie vliegure saam agter die rug. Die afgelope naweek het Richard jnr. gewys van watter stoffasie hy gemaak is toe hy koelkop gebly en sy pa en sy beseerde vriendin per vliegtuig na veiligheid gebring het ná ’n vliegongeluk.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het hulle ambulansdiens omstreeks 17:25 by die lughawe opgedaag nadat hul deur Rocket Air Ambulance in kennis gestel is van die ongeluk.

Nooddienswerkers van ER24 en Rocket Air Ambulance het albei pasiënte by die lughawe gestabiliseer voordat hulle per ambulans na ’n privaathospitaal in Alberton geneem is.

Volgens Meiring het Van Zyl erge brandwonde oor bykans haar hele liggaam opgedoen.

Jana van Zyl was ’n passasier in die ligte vliegtuig. Hulle word in ’n privaat hospitaal in Alberton vir brandwonde behandel.

Albei was teen druktyd in ’n bedenklike toestand.

’n Familielid van die Nicholsons het aan Die Pos gesê hulle is baie verlig dat Richard jnr., sy sussie, Tayla, en haar vriend, Jason, almal koelkop gebly het tydens die voorval en al die nodige reëlings getref het om die beste mediese behandeling vir die twee beseerdes te bekom.

Die familielid het op Sondag 13 Maart bevestig dat Nicholson intussen na die hoësorgeenheid oorgeplaas is en dat dit beter met hom gaan.

Die familie is ook baie dankbaar teenoor al die boere van die Tolwe-omgewing wat hulp verleen het tydens die noodgeval en ook agterna die veldbrand moes blus wat deur die brandende wrak veroorsaak is.

Marie Bray, woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid (BLO/ CAA), het bevestig dat die vlieënier Saterdagmiddag per radio laat weet het dat die vliegtuig elektriese probleme ondervind voordat dit ’n noodlanding moes maak.

Die BLO is besig met die ondersoek en ’n voorlopige verslag oor die moontlike oorsaak van die ongeluk sal binne 30 dae uitgereik word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button