CrimeNews

Moordenaar van oudboer gevonnis

Jare ná die brutale aanval op ’n bekende boer van Settlers is dié hoofstuk op Vrydag 11 Maart in die hooggeregshof in Polokwane afgesluit.

Hannes Prinsloo (84), boer en sakeman van die Springbokvlakte, is in Januarie 2009 op sy plaas Kalkbult in sy slaapkamer vermoor.

Die Pos het destyds berig dit was die derde keer dat hy aangeval en beroof is.

Sy vrou, Marie, is ’n paar jaar voor die noodlottige aanval oorlede en hy het alleen gewoon.

Bure het destyds gesê die tweede aanval op die egpaar het haar gesondheid erg geknou en waarskynlik haar dood verhaas.

Die egpaar was 60 jaar getroud. Prinsloo is in die derde aanval versmoor. Hy is op sy bed met ’n das en kussingsloop oor sy mond vasgebind aangetref. Sy hande en voete was vasgebind, het Die Pos destyds berig.

Sy woonstel was teenaan die winkelkompleks in die Nohaneng-gebied, ongeveer 20 km vanaf Settlers.

Kontant en selfone is in die derde aanval geroof.

Die polisie het 11 jaar ná die aanval leidrade opgevolg waarna kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, in samewerking met oudkol.

Sakkie Louwrens van die Bosveld Misdaad Ondersoekspan (BMO), asook die Modimolle-misdaadintelligensie-eenheid, in September 2020 ’n verdagte in Stoffelpark, Mamelodi, vasgetrek het.

Oscar Mashiloane se vingerafdrukke is op die toneel gevind en só met die moord verbind.

Die hofsaak het bykans twee jaar gesloer, maar Mashiloane se lot is uiteindelik op Vrydag 11 Maart in die hooggeregshof tydens vonnisoplegging bepaal.

Hy is tot lewenslange tronkstraf vir die moord op Prinsloo gevonnis, 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede, asook vier jaar vir huisbraak met die opset om te roof.

Prinsloo se familie het op sosiale media groot lof uitgespreek teenoor die ondersoekspan en gesê geregtigheid het uiteindelik geskied ná die dood van ’n gerespekteerde man.

Related Articles

Back to top button