MunicipalNews

Vullis hoop op in Modimolle se strate

Inwoners van Modimolle sit met hul hande in die hare oor probleme met die verwydering van vullis in die sentrale sakesektor, nywerheidsgebied, asook in die woonbuurte.

In sekere dele, soos in Bosveldsig fase 1-8 is die vullis meer as twee weke laas verwyder.

Die Pos het vroeg in Januarie berig oor twee (van die vyf) vullisverwyderingsvragmotors wat op daardie stadium buite werking was. Dit wil nou voorkom asof hierdie twee vragmotors nog steeds buite werking is, wat ’n bykomende las op die munisipaliteit se vermoë om dienste te lewer, plaas.

Volgens die munisipaliteit het die plaaslike motorwerktuigkundige wat verantwoordelik is vir die voertuie se instandhouding aanbeveel dat albei vragmotors se ratkaste vervang word — teen ’n stewige bedrag van ongeveer R280 000 per ratkas. Die nodige onderdele is intussen bestel.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het op Dinsdag 8 Maart ’n dringende verklaring uitgereik om die situasie te verduidelik.

Sy het aan Die Pos gesê sy en die raadslede is uiters gefrustreerd met die voortslepende diensleweringsprobleme.

“Die munisipaliteit sukkel ook met verouderde vullisvragmotors wat bydra tot die probleem.”

Luidens die verklaring word die vertraging in vullisverwydering toegeskryf aan meganiese probleme met al vyf vullisverwyderingsvragmotors, asook een van die twee trekkers met sleepwaens wat hiervoor gebruik word.

Die munisipaliteit se vullisverwyderingsvloot bestaan uit sewe voertuie waarvan vyf aan die plaaslike munisipaliteit behoort en nog twee voertuie gehuur word.

“Slegs een van die sewe voertuie wat gebruik word vir vullisverwydering is tans in diens, maar ’n tweede voertuig sal op Woensdag 9 Maart gereed wees om te werk,” het Van Staden gesê.

“Die vullisverwyderingspan werk gewoonlik in skofte en sal nou bykans dag en nag werk om die agterstand in te haal,” het sy gesê.

Van Staden het verder verduidelik dat die munisipaliteit nuwe voertuie benodig vir ’n langtermynoplossing.

“Die munisipaliteit het in Oktober 2021 aansoek gedoen om ’n munisipale infrastruktuurtoelaag te bekom sodat drie nuwe vullisvragmotors, ’n trekkerlaaigraaf, asook ’n kompakteerder by die vullisterrein gekoop kan word. Die uitslag van ons aansoek behoort teen middel Maart beskikbaar te wees,” het sy gesê.

Tydens ’n onderhoud met Van Staden op Woensdag 3 Maart het sy verduidelik dat die munisipaliteit se hele vloot voertuie deur Absa-bank bestuur word.

“Ons het sedert Desember 2021 groot bedrae vir uitgawes in hierdie rekening opgemerk. By nadere ondersoek is daar toe op talle administratiewe foute afgekom soos die duplisering van fakture. Hierdie foute is intussen reggestel.”

Van Staden het gesê daar is voorsiening gemaak in die munisipaliteit se konsepbegroting om voorts by nasionale tesourie se vlootkontrak in te skakel om nuwe voertuie vir die munisipaliteit se vloot aan te skaf.

Hierdie besluit is tydens die raadsvergadering op Maandag 28 Februarie goedgekeur.

Die gedeeltes wat die ergste geraak is, is Modimolle en Mookgophong se sentrale sakesektor, nywerheidsgebied, asook die woonbuurte.

Die townships in albei dorpe en dié van die Roedtan is ook nie verwyder nie.

Intussen het inwoners, privaat instansies, asook politieke partye ingespring om tydelike verligting te bring in sekere plekke waar die vullisopeenhoping handuit geruk het.

Related Articles

Back to top button